Boek: Die rooi prinses

Die-Rooi-Prinses-voorblad.jpgOuteur – Paul Biegel
Illustreerder – Fiel van der Veen

Niemand het nog ooit die Rooi Prinses gesien nie, want sy het agter die mure van die Wit Toringpaleis grootgeword. Eers op haar twaalfde verjaardag kom sy uit om in ’n feestelike optog aan die volk bekendgestel te word. Dit is ’n lang stoet van rytuie vol waardige persone, met heel aan die einde die rooi koets waarin die prinses sit. Die volk rek hulle nekke om haar uiteindelik te sien, maar voor enigeen ’n glimp van haar kan kry, gebeur iets verskrikliks. Woeste rowers storm nader en ontvoer die prinses met koets en al in ’n wilde rit die stad uit en die wildernis in.

“Hoe vreeslik!” dink almal. Maar dan begin sommige mense wonder of dit nie alles net toneelspel was nie. Bestaan die Rooi Prinses regtig? Niemand het haar dan met ’n oog gesien nie.

En daardie rooihaarmeisie wat in vuil klere stoksielalleen deur die wildernis dwaal, is dit ’n prinses? Elke meisie van twaalf met rooi hare kan mos nou sê sy is die Rooi Prinses. En dit gee iemand ’n blink idee …

Vertaal deur Daniel Hugo.

Oor die outeur

Paul Biegel (25 Maart 1925, Bussum – 21 Oktober 2006, Laren) was ’n beroemde Nederlandse kinderboekskrywer. Sy bekronings sluit in: die Nederlandse Staatsprys vir Kinder- en Jeugliteratuur (1973), die Woutertje Pieterse-prys (1991: Anderland en 2000: Laatste verhalen van de eeuw), die Nienke van Hichtum-prys (1973: De twaalf rovers), die Gouden Griffel (1965: Het sleutelkruid; 1972: De kleine kapitein en 1993: Nachtverhaal) en die Zilveren Griffel (1972: De twaalf rovers; 1974: Het olifantenfeest; 1982: Haas en 1988: De rode prinses). In 1996 is hy benoem vir die Hans Christian Andersen-prys en in 1999 is hy uitgeroep tot Ridder in die Orde van die Nederlandse Leeu.

Oor die illustreerder

Fiel van der Veen (1945) is ’n Nederlandse grafiese ontwerper en illustreerder. Hy studeer aan die Academie voor Beeldende Kunsten in Arnhem en illustreer vir outeurs soos Willem Wilmink, Paul Biegel, Jan Terlouw en Bies van Ede. Sy bekronings sluit in: ’n Zilveren Penseël in 1988, die NIC Illustrasie Jaarprys in 1997 en die Woutertje Pieterse-prys in 2000.

Oor die vertaler

Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radiosondergrense en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van o.a. Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R150.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.