Boek: Die rooi trem

Stephanie en Henk Rappard

Hierdie liefdesverhaal strek van Suid-Afrika na Nederland en weer terug. Hier is twee mense wat bestem was om saam te wees, maar mekaar verloor het en na baie jare weer gevind het. Magiese oomblikke wanneer amper-vergete herinneringe meteens klokhelder opgeroep word; die elke dag se herontdekking van mekaar – maar ook die onbeskryflike hartseer met die besef van al die verlore jare en ʼn futiele woede oor verspeelde geleenthede en gedane sake word op pragtige maniere uitgebeeld.

Baie trane is gestort – soms van weemoed, soms van blydskap, soms van wanhoop. Daar is ook onthou, ontdek, gelag, geniet, gesoek, gevind. Die leser gaan saam op reis en sal dit moeilik vind om nie meegevoer te raak nie.

Oor die outeur

Die outeurs van Die rooi trem, Stephanie en Henk Rappard, het die boek geskryf oor hul magiese herontmoeting. Hulle het in die eerste plek vir hulself stukke in kortverhaalformaat neergeskryf; hulle wou gebeure en die essensie van hul “sielsgenootskap” probeer verwoord. Volgens hulle het die boek toe eindelik ʼn lewe van sy eie gekry en is Die rooi trem gebore.

Stephanie is ʼn reisjoernalis en Henk se foto’s word die afgelope paar jaar in die meeste van haar reisartikels gebruik. Henk was vir dekades by die Ministerie van Volksgesondheid, Welsyn en Sport in Den Haag, Suid-Holland, werksaam en was altyd lief vir fotografie. Stephanie se artikels en kortverhale word gereeld in verskeie publikasies soos Beeld, sy susterskoerante, Vrouekeur en Rooi Rose gepubliseer.

Sy was vir jare betrokke by nuusblaaie en toerismepublikasies en het in die laat 90’s ʼn plaaslike koerant in die Laeveld op die been gebring. Sedert hul herontmoeting streef hulle daarna om elke dag ten volle te benut, sê hulle. Saam kan hulle nou drome navolg en nuwe avonture beleef. Hulle is ook gesoute reisigers, handelaars van versamelaarsitems en eienaars van ʼn mini-gastehuis én, ʼn tweede boek is nie uitgesluit nie.

Uitgewer: Naledi Uitgewers
Prys: R220,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.