Boek: Die rooikop en die redakteur en ander stories

André P. Brink

Dekades voor hy beroemdheid verwerf het as internasionaal bekroonde skrywer van meer as 25 romans, het André P. Brink gedurende die vyftigerjare sy brood en botter verdien met die skryf van stories vir gesinstydskrifte. In dié bloemlesing verskyn daar vir die eerste keer ooit ’n keur van die liefdesverhale wat hy as student in die destydse Die Brandwag en ook  Die Huisgenoot gepubliseer het.

In dié dosyn verhale oor eertydse jintelmans en koppige heldinne wat nie huiwer om hul sê te sê nie, word dit gou duidelik hoe die vroeë Brink sy skrywerstem geslyp het, en andersyds kan ’n mens onmiddellik ’n kern van sy latere, volwasse skrywerstem bespeur. Die landskap van Parys, ’n boekeredakteurskantoor, die onmoontlikheid om tussen twee liefdes te moet kies: Leitmotifs wat jare later, hoewel meer vervorm, steeds sou weerklank vind in Brink se werk.

Die rooikop en die redakteur en ander stories kombineer Brink se eiesoortige humor met ’n tikkie nostalgie – perfek vir ’n ouer én nuwe geslag lesers. Dit is saamgestel deur Cecilia van Zyl, voormalige verhaleredakteur van Huisgenoot.

Oor die outeur

André Philippus Brink (29 Mei 1935 – 6 Februarie 2015) is op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg en gaan studeer BA op Potchefstroom. Hy behaal beide sy MA-graad in Engels (1958) en Afrikaans (1959) cum laude. Hy vertrek hierna na Parys in Frankryk, waar hy vergelykende literatuur aan die Universiteit van die Sorbonne studeer.

In 1961 is hy aangestel as lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes op Grahamstad. In 1962 verskyn Lobola vir die lewe wat as sy eintlike debuut beskou word. Hy was saam met Breyten Breytenbach een van die sleutelfigure in die Sestiger-beweging. Hy was van 1980-1990 die hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes. Daarna word hy by die Departement Engels aan die Universiteit van Kaapstad aangestel, waar hy emeritus-professor in Engels geword het.

André P. Brink was een van die mees veelsydige figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal, insluitend Serbo-Kroaties, Japannees, isiXhosa en Viëtnamees. Hy was twee maal met die Hertzogprys bekroon (2000 en 2001).

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R240,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.