Boek: Die seun wat saam met drake lewe, vlieg

Andy Shepherd

Die seun wat saam met drake lewe (2) en Die seun wat saam met drake vlieg (3) is deur Andy Shepherd geskryf. Dié boeke het pas by Protea Boeke verskyn.

Die seun wat saam met drake lewe (2)

Tomas het ʼn groot geheim: hy het ʼn klein drakie wat hy in sy oupa se tuin gekweek het. En dit is nie al nie – sy vriende, Ted, Kai en Kat het ook hulle eie drake.

Om ʼn draak te hê is ʼn wonderlike ervaring, maar dit is netsowel jy dra ʼn onvoorspelbare vulkaan in jou broeksak. Om die drake uit die moeilikheid te hou, is baie harde werk. Boonop lyk die draakvrugboom effens verlep. Tomas en sy vriende moet die draakvrugboom weer gesond kry en ook probeer uitpluis wat Liam, die skoolboelie, in die mou voer.

Die seun wat saam met drake vlieg (3)

Tomas kan nie sy lewe voorstel sonder sy draak Flikker nie. Flikker is meer as net ʼn troeteldier – hy’s die beste maat wat Tomas al ooit gehad het. Maar Tomas het sy oupa belowe dat hy en sy vriende hulle drake sal vrylaat, en dit is beslis nie ʼn maklike ding om te doen nie. Veral nie wanneer Tomas en sy vriende soveel pret saam met hulle drake Flikker, Son, Vrieska en Sluiper het nie; ook nie as hulle nog moet uitwerk waar die drake vandaan kom en hoe om hulle weer terug by hulle huis te kry nie, en beslis nie wanneer Tomas op die nippertjie is om die storie agter die geheimsinnige draakvrugboom uit te pluis nie.

Oor die skrywer
Andy Shepherd is ʼn kinderboekskrywer. Sy het aan die kus by Essex grootgeword en het die meerderheid van haar kinderdae in bote deurgebring, gedurig aan’t skryf. Shepherd woon tans naby Cambridge in Engeland saam met haar man en hulle twee seuns en haar hoofambisie in die lewe is om uit te pluis hoe om Cambridge nader aan die see te skuif.

Oor die illustreerder
Sara Ogilvie is ʼn bekroonde illustreerder. Sy is in 1971 in Edinburgh gebore en woon tans in Newcastle upon Tyne in Engeland. Ogilvie het al talle prenteboeke vir kinders geïllustreer, waaronder The Detective Dog deur Julia Donaldson, The Worst Princess deur Anna Kemp en Izzy Gizmo deur Pip Jones.

Oor die vertaler
Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014) en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die Walvisse gekom het (Protea, 2015).

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.