Boek: Die skandalige susters Smit

Adeline Radloff, Alex van Houwelingen

Sara Sloot-Smit is ʼn baie gelukkige meisie. Sy woon in ʼn luukse huis in ʼn welvarende buurt, gaan na ʼn spogskool en het ouers wat baie belangrike werk doen. Maar hulle het min tyd vir hulle dogter. Toe hulle aankondig dat hulle ʼn maand lank oorsee gaan, is dit vanselfsprekend dat Sara nie saamgaan nie.

Sy moet by haar drie tannies, haar pa se susters, in die stad gaan bly: “O, die skandalige susters Smit. Wie het nog nié van daai drie gehoor nie? ʼn Feeks en ʼn flerrie en ʼn rissiepit; geen ander tannies was nog ooit so goor nie!”

Haar pa dink sy susters ken nie hul plek nie. Suzie giggel en maak grappies; geen sprake van waardigheid by haar nie. Silvie is konstant met ʼn nuwe kêrel of twee, en Sofia is wel suksesvol, maar sy’s kwaai en gemeen en veels te luidrugtig. Sal Sara ooit die vakansie oorleef?

Die boek is perfek vir kinders tussen 10 en 12.

Oor die outeur

Adeline Radloff het in haar jeugjare deur meer as 25 lande gereis. Sy het darem ook ʼn regsgraad en ʼn  MA-graad in Engelse letterkunde verwerf. Sy het al gewerk as ʼn rolprent-operateur, ʼn skoonheidsdeskundige, ʼn regshulp-assistent, ʼn kelner, ʼn parfuumverkoper, ʼn kroegmeisie, ʼn vryskut joernalis, ʼn ontbytkok, ʼn kandidaat-prokureur, ʼn taalspesialis, ʼn huisvrou, ʼn barista, ʼn EFL-onderwyser, en ʼn akademiese ontwikkelingstutor.

Dit was met ʼn sekere sin van verligting dat sy uiteindelik haar plek in die lewe gevind het as skrywer, onderwyser en ma.

In 2009 het sy die Sanlam Prys vir Jeuglektuur gewen vir haar debuutroman, Sidekick. In 2012 is haar tweede boek, Een Stad, Drie Rooikoppe, Sewe Dae, wat sy saam met haar suster, Lili Radloff geskryf het, gepubliseer.

Sy bly in Kaapstad saam met haar man en twee dogters.

Oor die illustreerder

Alex van Houwelingen is ʼn vryskutillustreerder van Pretoria.  Op laerskool het hy prente van sokkerspelers vir maats en spotprente op aanvraag van onderwysers geteken.  In sy hoërskooljare het hy begin kunsklasse gee vir jonger kinders en het tot sowat 40 studente op ʼn keer gehad. Hy verwerf in 2006 ʼn graad in Inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria. Sedertdien illustreer hy vryskut en skryf ook graag vir kinders. Hy sê: “Ek weet nie eintlik wat’s die verskil tussen werk en vrye tyd nie, want ek teken heeltyd”.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R155,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.