Boek: Die Swart Kat slaan vir oulaas toe

Chris Sasner

Soos ʼn skaduwee bly die Swart Kat op die spoor van misdadigers in Suid-Afrika. Die woord “genade” bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy is vinniger as die pik van ʼn mamba, geruisloser as ʼn arend, so sterk soos ʼn bees en so onverskrokke soos ʼn ratel.

In hierdie reeks avonture trek die Swart Kat vir ʼn laaste keer berugte kriminele plat: hy meet kragte teen ʼn sterkman wat juwele steel, trap ʼn sluwe fietsdiefstalsindikaat vas en ontmasker ʼn spul skurke wat geldnote vervals. Dié keer sal almal uiteindelik weet die Swart Kat het toegeslaan!

Die Swart Kat slaan staal en verdere avonture is die jongste en ook die heel laaste boek in die Swart Kat-reeks. Dit is deur Chris Sasner geskryf met illustrasies deur Willem Samuel. Die boek het pas by Protea Boekhuis verskyn.

Oor die skrywer

Sasner is die skuilnaam van Gert Basson. Basson is ʼn skrywer, joernalis en uitgewer en is sedert 2003 saam met sy vrou, Cillah, op Swellendam woonagtig. As joernalis was hy verbonde aan die tydskrifte Avontuur/Die Lewe, Nonquai/Servamus, assistent-redakteur van Die Suidwester en redakteur van die jeugtydskrif Patrys. As uitgewer was hy hoof van belletrie van Voortrekkerpers/Perskor, bestuurder van Perskorboekklubs, bestuurder-uitgewer van Juventus, Femina en Folio en hoofuitgewer by JP van der Walt tot en met sy uittrede in 1998. Hy doen ook vryskutwerk vir koerante en skryf kortverhale onder sy eie naam asook onder skuilname vir verskeie tydskrifte.

Oor die illustreerder

Samuel is ʼn Suid-Afrikaanse strokiesprentkunstenaar. Hy was kunsdirekteur by die strokiesprent- en animasie-ateljee Strika Entertainment in Kaapstad, wat die gewilde Supa Strikas-televisiereekse en -strokiesprente geskep het. Sy werk is verder op die internet te sien en het al in verskeie publikasies verskyn, onder meer Laugh it Off en Bitterkomix.

Prys: R150,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.