Boek: Die tragiese saak van Pamina Vermaak

Annie Klopper

Toe Pamina Vermaak by die werk “uitfreak”, sit sy skielik sonder inkomste. Boonop verloor sy haar kêrel, haar woonstel in Tamboerskloof, asook die laaste flenters toekomsideale wat sy naarstig aan ’t vasklou was – alles in een dag. Sy is gedwing om druipstert terug te keer na haar ouerhuis op die klein Weskusdorp Witwaterbaai. ʼn Plek wat sy gesweer het haar nooit weer sal sien nie.

Intussen basuin die voorblaaie van poniekoerante dit uit dat rockster Wolf de Jager se verlowing met aktrise Daniella du Toit verbreek is en krioel dit op sosiale media van steelfoto’s waar sy hom verneuk. Hy moet weg uit die Kaap en ʼn lukrake seleksie op Google Maps bring hom tot op Witwaterbaai, waar sy swart leerbaadjie harder as sy Fender Stratocaster skreeu teen die gehekelde doilies in Ant Leentjie se gastehuis.

Sal Pamina en Wolf op hierdie slakkepas-dorp van bokkoms droog en stoepsit hul probleme kan ontduik? Of lê daar net nog meer komplikasies voor?

Oor die outeur

Annie Klopper is ʼn dosent, taalpraktisyn en oud-musiekjoernalis. In 2011 het sy Biografie van ʼn Bende oor die rockgroep Fokofpolisiekar vrygestel. Daarna het sy ʼn doktorale studie oor Afrikaanse rap-musiek voltooi. Haar gedigte verskyn in verskeie publikasies. Die tragiese saak van Pamina Vermaak is haar eerste fiksie-werk.

Uitgewer: Kwêla
Prys: R245,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.