Al is die gebruik van osse as trekdiere lank nie meer deel van die bestaan van die meeste mense in Suid-Afrika nie, is die land se geskiedenis sonder inagneming van die bydrae van die trekos ondenkbaar.
Vir die eerste keer word die benutting en ontwikkeling van die os en die meegaande trektoerusting, met spesifieke verwysing na die trekos as kragbron, in die ontwikkelingsgeskiedenis van Suid-Afrika deeglik bekyk, na waarde geskat en die os en sy toerusting breedvoerig as kultuurhistoriese entiteit beskryf.
Die trekos en trektoerusting in Suid-Afrika – ’n historiese perspektief is ’n verwerking van die skrywer se verhandeling wat vir sy meestersgraad in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit ingelewer is.
Dié boek is geskik vir liefhebbers van die plaaslewe en die geskiedenis van landbou in Suid-Afrika, maar in besonder vir dié wat in die trekos en vervoermiddels van weleer belangstel. Dit sal ook byval vind by mense wat gefassineer word deur die Groot Trek en die bydrae wat die trekos tot die oopstelling en ontwikkeling van die binneland gespeel het.
Oor die skrywer
C Marius Oosthuizen het ná matriek in 1958 ʼn BSc- en honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Van 1965 tot 1970 was hy in diens van die departement van landbou, waarna hy voltyds boer.
Oosthuizen het in 1972 Alexandria toe getrek waar hy gereeld met trekoseienaars gewerk het. Dit het onder meer die hantering en benutting van trekosse asook verskillende tegnieke vir die brei van rieme vir uiteenlopende gebruike ingesluit.
Van 2004 tot 2014 was hy deeltydse konsultant in dieretrekkrag aan die Universiteit van Fort Hare. In dié tyd is talle opleidingskursusse oor die volle spektrum vir die maak van tersaaklike trektoerusting aangebied.
Prys: R350,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis