Boek: Die tuiskoms

Tuiskomsdeur Sophia Kapp

Liz Aucamp het tien jaar gelede haar geboortedorp as banneling verlaat. Vandag is sy ʼn onkoloog wat op die drumpel van ʼn briljante akademiese loopbaan staan, maar omstandighede dwing haar terug Groblersdorp toe, waar die skindertonge maar te gretig wag om haar te verslind.

In die stowwerige hitte van die Klein-Karoo moet sy weer vir Jans Gildenhuys in die oë kyk, die man wat haar jong liefde vertrap het, moet sy vir Magdel Aucamp en haar verbete snobisme trotseer, en moet haar man staan teen Herk Louw, die prokureur met die sardoniese glimlag en oniks oë, wat haar bloot op grond van skinderstories veroordeel en verwerp het.

Algaande besef Liz dat Groblersdorp haar nodig het, miskien nog nodiger as al die pasiënte in Johannesburg se goedtoegeruste hospitaal, en dat daar vir haar ʼn plek in die gemeenskap oopgegaan het wat net sy sal kan volstaan. Al wat sy nie weet nie, is of daar vir haar ʼn plek in Hert Louw se hart is…

Oor die outeur: 
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees. Sy glo onwrikbaar in die helende krag van liefde, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak.

Daarom plaas sy haar heldinne binne realistiese situasies en laat hulle spook met geloofwaardige krisisse waardeur vroue dwarsoor die wêreld en die sosiale spektrum moet worstel: verraad, verlies, egskeidings, affairs, miskrame, middelmisbruik, moeilike tieners, bagasie van vorige verhoudings…

Vir elke heldin wat bereid is om hierdie krisisse aan te pak en te oorkom, is daar egter ʼn held, ʼn man wat by haar pas en haar waardig is; iemand saam wie sy binne ʼn vervullende verhouding geborgenheid vind.

Elkeen van Sophia se karakters het ook susters op hulle reise – bloedsusters of hartsusters – wat haar optel as sy val, wat haar dra as sy moeg word en wat saam met haar dans as sy feesvier.

Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans gekroon en Huis van die wind in 2012. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeertes aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ʼn MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ʼn akademiese loopbaan gevolg, maar intussen was sy al alles, van ʼn barrista tot ʼn boekhouer in ʼn bank. Tans is sy, benewens ʼn skrywer, ook ʼn taalpraktisyn, vertaler, dosent en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns.

Uitgewer: LAPA Uitgewers
Prys: R214-95*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.