Boek: ‘Die wet van Gauteng’ – Hannes Barnard

Hannes Barnard

As jy in Suid-Afrika se politiek bo wil bly, het jy geld nodig. Dink jy mense stem omdat hulle in die kandidaat se visie glo? Nee, ou maat, die wet van Gauteng is ketjieng-ketjieng-ketjieng.

Kaptein Cindie McKelly, ʼn forensiese spesialis van die Randfontein-polisiestasie, word een oggend in Februarie na ʼn misdaadtoneel in Kagiso ontbied. Daar vind sy die oorskot van drie slagoffers in ʼn verwaarloosde klinkersteenhuis: Twee Somaliese vroue en een Suid-Afrikaner – laasgenoemde met ʼn koeëlronde gat waar sy linkeroog behoort te wees.

Vroeg April ontvang Cindie ʼn oproep van kaptein Awande Mhlanga, speurder in Parktown, oor drie moorde wat blykbaar ooreenstem met haar eie ondersoek. En ʼn paar dae later vind hulle nóg ʼn slagoffer met dieselfde modus operandi, in Muldersdrift.

ʼn Taakmag word saamgestel om die Oogarts, soos die media na die skerpskutter verwys, vas te trek. Ten spyte van ʼn onbekwame brigadier en ewig krimpende begrotings begin Cindie en Awande geleidelik ʼn komplekse netwerk ontrafel wat staatskaping laat lyk na swieties steel by die hoekkafee.

Die wet van Gauteng, Hannes Barnard se debuutspanningsroman, het ʼn verweefde, eg Suid-Afrikaanse intrige: politieke faksiegevegte, aartskorrupsie én geldwassery.

Oor die skrywer

Barnard is op 24 Augustus 1976 in Sasolburg gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Dundee in KZN. Sy debuutroman, Halley se komeet, verskyn in 2019 by Wenkbrou, ʼn  druknaam van Lapa Uitgewers. Sy jeugroman, Wolk, verskyn in 2020 ook by Lapa, gevolg deur Roet in 2021. Barnard woon tans in Johannesburg en werk in verkope en bemarking.

Prys: R310,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.