Boek: Die Wondêrwereld Van Goggas

Hoezit-4-Die-wonderwêreld-van-goggas.jpgJaco Jacobs en Fanie Viljoen

Hoeveel verskillende soorte goggas is daar op aarde?
Wat is die gevaarlikste gogga op ons planeet?
Wat gebeur alles binne-in ‘n bynes?

Jy sal al die antwoorde in hierdie fantastiese feiteboek kry! Met 48 bladsye propvol prettige feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van insekte en ander goggas kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong diereliefhebbers se tone te laat omkrul van lekkerkry! Kyk hoe ‘n ruspe in ‘n skoenlapper verander, ontmoet ‘n paar van die vreemde en fantastiese goggas wat in die oertyd geleef het, en vind uit hoe goggas verskillende jagtegnieke gebruik om hul prooi vas te trek.

Hoezit! het die afgelope paar jaar ‘n bekende naam op tydskrifrakke geword. Die lekkerleestydskrif vir kinders is ‘n nuttige vriend in die klaskamer – en boonop vet pret. Die tydskrifformaat van Hoezit! het onlangs plek gemaak vir ‘n interaktiewe webtuiste propvol inligting en vermaak. En die goeie nuus is dat LAPA Uitgewers nou Hoezit! in bekostigbare boekvorm uitgee – met splinternuwe temas en aktiwiteite wat perfek is vir skooltake en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.

Ander titels in die reeks

Hoezit! Die wonderwêreld van soogdiere
Hoezit! Die wonderwêreld van walvisse en dolfyne
Hoezit! Die wonderwêreld van reptiele en amfibieë

Oor die outeurs

Met topverkopertitels soos My ouma is ‘n rock-ster, Superheroes vlieg net saans en Wiskunde gee my maagpyn agter sy naam, is dit g’n wonder nie dat Jaco Jacobs een van die gewildste, veelsydigste en mees bekroonde kinderboekskrywers in Afrikaans is. Sy boeke vir jong lesers is propvol aweregse humor, gruwelike grilgoed en wilde avonture. Jaco het reeds meer as 95 boeke die lig laat sien, en meer as 500 000 kopieë van sy boeke is reeds verkoop. Afgesien van kinderboeke, skryf hy ook rubrieke, tydskrifartikels, ‘n kinderboekblog, en hy het reeds meer as 200 boeke in Afrikaans vertaal. Jaco het in die Karoo grootgeword, maar woon deesdae in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, hul dogtertjie, Mia, twee honde, Pippie en Binki, en twee hoenders wat tans nog naamloos is.

Trefferboeke soos Slym, Klou, Betower en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ‘n huishoudelike naam gemaak. Fanie het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ‘n kunstenaar en kinderboekillustreerder wat al aan verskeie uitstallings deelgeneem het. Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, Betower was verlede jaar die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie, en hy het al ‘n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm.

Uitgewer: LAPA-Uitgewers
Prys: R39,99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.