Boek: ‘Die wonderwêreld van Willem Landman’ – Johan Kruger

Johan Kruger

Die wonderwêreld van Willem Landman gaan onder meer oor Mintaka, een van drie sterre in Orion se gordel. Dis eintlik tweelingsterre, die een ʼn bloureus, die soldaat, en die ander sagter, vriendeliker. Dit speel op die twee broers in die boek: Alex, meestermanipuleerder en sy afwesige broer, Zander. Alex het vir hom ʼn aansienlike sakeryk uit gekonkel opgebou. Hy het vir hom ʼn vesting op ʼn koppie gebou nadat hy Bella, die Griekwa-vrou aan wie se familie die grond reeds geslagte behoort, bedrieg en die munisipaliteit omgekoop het. Van daar af bedryf hy sy sake en daarheen laat kom hy sy “agente”. Hy is magsbehep en ʼn sekspes. Hy is ook psigoties, bossies en vermoedelik skisofrenies.

Die karakter wat die kollig steel, is die titelkarakter, Willem Landman – een van Alex se agente. Lesers het hom leer ken as die sukkelende kulkunstenaar in Die formidabele Ling Ho. Willem is ʼn formidabele twakprater, ʼn stiksienige siener wat moontlik, per ongeluk, wel oor sekere gawes beskik, effens “kommin”, ongeleerd maar vol planne en ʼn oog vir ʼn gaping. Onrus broei in die gemeenskap en dinge word op die spits gedryf wanneer ’n hele paar agente tegelyk by Alex se vesting byeenkom.

Die wonderwêreld van Willem Landman deur Johan Kruger het pas by Protea Boekhuis verskyn.

Oor die skrywer

Kruger is ʼn regspraktisyn en hy was, onder andere, as regsadviseur betrokke by die grondwetlike onderhandelinge wat in 1993 in Kempton Park plaasgevind het. Hy en sy vrou, Hester, woon tans op hulle aftreeplaas digby die Loskopdam in Mpumalanga. Kruger is ʼn veelsydige skrywer wat sy pen aan verskeie genres gewaag het. Hy het onder meer vier jeugromans, twee geskiedkundige romans, verskeie kortverhale asook ʼn speurroman die lig laat sien. Hy het ook kortverhale geskryf waarvan verskeie in die Tydskrif vir Letterkunde verskyn het en ʼn paar in twee kortverhaalbundels opgeneem is. In 2012 is Die vloek vir ʼn ATKV-Woordveertjie benoem.

Prys: R280,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.