Boek: Die Wonderwese

Carina Stander

Die Wonderwese is die tweede boek in die Bergengel-trilogie.

Won-der-we-se  1. (van die selfstandige naamwoord oervlerceia [urflærsia]): ’n Ewigheidswese in Gabriëlliese opskrywings. 2. ’n Vrylewende voëltjie wat deur die eeue oorgedra is van Bergengel na Bergengel, maar slegs ’n paar keer in ’n Bergengelbewind van twintig jaar verskyn, altyd tydens lewensgevaarlike oomblikke. 3. Die mistieke verteenwoordiger van die Helder Een wie se nabyheid tot oerheimlike vermoëns en verstommende wonders lei.

Sedert Eron Verberger en Velvel Azazel se gewelddadige struweling in die Vallei van Bergstrome het omstandighede in Gabriëllië geensins verbeter nie. Die Skoonbrand woed. Rondom die Klaagtermeer weerklink die Klokke van Hongersnood en in Nanaal offer desperate ouers hulle kinders aan ’n kultusleier om hulle ’n lewe van slawerny te spaar.

Ten spyte van Eron se verminkte hand is hy nou ’n begeesterde Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms en op soek na die laaste Geseëndes op die Kaart sodat hy hom by sy pa in Afrika kan aansluit.

By sy digtervriend Anav Elanov leer Eron dat woorde wapens is en hy stem in om ’n “opebinnekantvers” na die landsleiers te neem – ’n waarskuwing teen die gruwels wat gepleeg word in die opkoms van Gabriëllië as wêreldmag. Hy deurkruis stede, woude, moerasse, ysgrotte en bergpieke, bevriend boekgeleerdes en barbare, trotseer wolftroppe, dwaalgeeste en die nageslag van ’n wangeskape ras. Maar die knaende vraag in sy binneste bly: As die Wonderwese werklik bestaan, waarom is daar geen teken van dié Teenwoordigheid nie? Of kyk Eron iets wonderbaarliks heeltemal mis?

Oor die outeur:

Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ’n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria werk sy ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Ná ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ’n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD Onthou.

Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ’n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif Lééf en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg en word in 2013 ook in Nederlands vertaal (Uitgeverij Athenaeum). Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ’n kinderboek deur ’n kleuter. Carina woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.