Boek: Diepsee – ‘n Keur uit die verhale van E. Kotze

diepsee

E. Kotze

Diepsee is ’n keur uit al die kortverhaalbundels van E. Kotze wat sedert 1982 verskyn het. Dié uitsonderlike vertellings handel oor die harde lewe aan die dorre Weskus van Suid-Afrika, en soos die eerste bundel se flapteks dit gestel het: “Dit is tydlose verhale waarin die wesenlike aard van die mens met skerp insig en met deernis blootgelê word.”

Daar is verlate soutpanne waar mense ná jare se saamwoon mekaar eindelik leer ken; wraaksugtige vuurgeeste wat besweer moet word en huwelikspaaie vol duwweltjies om te bewandel; ‘n jong man wat vreemde draaie op land en see loop om die Nagmaalvieringe te kan bekostig.

Die swaar lot van vroue en kinders in dié onherbergsame wêreld, in ‘n tyd toe die beskawing nog ver kon voel, word subtiel en treffend geteken. So ook die swaarkry van ‘n vissermanslewe, maar altyd met die oog ook op die mooie, die humoristiese. Die unieke landskap is aan dié verteller en mensekenner so intiem bekend dat die leser moeiteloos saamreis daarheen.

Oor die outeur:
E. Kotze is gebore op ‘n plaas aan die Bergrivier. Sy word groot aan die Weskus, waar haar pa ‘n ingenieur by die kreeffabriek was. In 1954 trou sy met die skipper Willie Kotze, wie se vertellings oor ervarings op land en see aanleiding gee tot haar eerste bundel kortverhale, Halfkrone vir die Nagmaal (1982). Later volg die bundels Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie (1997), Slag van die breekbrander (2000) en Die wind staan oos (2007), sowel as twee gewilde romans, Toring se baai (2009) en Hoogty (2011). Kotze woon in ‘n aftreeoord in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mari ·

Ek Sal graag Ballade Vir ‘n enkeling wou lees. Verder lees ek baie grrag boeke van Jaco Thom. Een wat baie uitstaan was “Die Hemelbodes” van Jaco Thom.
Baie dankie.
Groete
Mari Goosen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.