Boek: Donderweer Gedagtes

Almero Welgemoed, die jong Johannesburgse musikant en skrywer, het onlangs sy kortverhaal- en digbundel, Donderweer Gedagtes, vrygestel.

Welgemoed skryf oor onderwerpe waaroor mense moeilik in die openbaar praat en sê die boek bevat roerende temas. “Dis moeilike onderwerpe, maar dis onderwerpe wat tog baie gesinne agter geslote deure raak, soos onder meer huishoudelike geweld,” sê Welgemoed.

“Ek het gevoel dis belangrik om te skryf oor die lelike dinge in die lewe en ek hoop mense sal besef hulle is nie alleen nie,” sê hy.

Die bundel bestaan uit ʼn reeks briewe, wat gerig is aan onder andere God en ook aan homself. Dit bevat ook gedigte, aanhalings uit gesprekke wat ʼn bepaalde indruk op hom gemaak het en kortverhale.

“Die karakters in die boek worstel met verskeie vrae en innerlike konflik,” vertel Welgemoed. “Elke karakter hanteer dit op ʼn unieke manier, wat dan natuurlik weer ʼn invloed op ander karakters het en sodoende ʼn somtyds onbewustelike rimpeleffek veroorsaak.”

Kwessies soos depressie, selfskending, selfmoord, sosiale aanvaarding en geloof word aangespreek in die boek. Welgemoed sê hy hoop om veral tieners en studente wat soms in die geheim met hierdie probleme sukkel, te bemoedig en aan te moedig om hulp te kry.

Oor die outeur

Welgemoed is ook die medesamesteller van die digbundel Liefde Wen saam met die kunstenaar Bouwer Bosch.

Uitgewer: Naledi Online
Prys: R175,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Hierdie jong lat is baie talentvol. Kyk gerus “Donderweer Idees” op Youtube

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.