Boek: Donker spoor

Donker spoor (2)deur Martin Steyn

‘n Hoërskoolmeisies se liggaam word ‘n ent buite Durbanville ontdek. Wanneer die patoloog sien dat die meisie gehang is, onthou sy ‘n soortgelyke geval.

Die laaste ding waarvoor die middeljarige inspekteur Jan Magson Ius is, is ʼn reeksmoorddossier, maar saam met inspekteur Colin Menck volg hy die spoor: Hulle ondersoek die onderwyser met ‘n verlede; hulle kaap “liefdesbriewe” wat klaarblyklik deur die moordenaar na die meisie se ouerhuis gepos word; hulle betrap ‘n swembadskoonmaker wat hoërskoolmeisies afneem … Wie is verantwoordelik?

Die heeltyd is daar ook die donker spoor wat die kankerdood van Magson se vrou in hom agtergelaat het, sy stukkende verhouding met sy seun in Engeland en alleenaande saam met sy dienspistool.

Nog ‘n meisie word in ‘n veld gekry. ‘n Sekuriteitskamera het haar die dag van haar dood afgeneem en dit lei tot ‘n paar moontlike verdagtes. Magson, wat nou in terapie is en probeer om iewers weer ‘n lewe te vind, sak hard op hulle toe.

Dan verdwyn nog twee meisies binne twee dae. Magson en Menck jaag teen tyd – ʼn naweek, volgens die patroon – om hulle te probeer opspoor. Maandag is daar nog geen teken van die meisies, of hul Iyke nie, maar Magson ontdek ‘n leidraad wat uiteindelik die moordenaar se spoor ontbloot. En hy vind uit daar is nog tyd.

Chanette Paul, LAPA se manuskripontwikkelaar se: “Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ‘n manuskrip soos met hierdie een. Dis ‘n grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid. Die verhaalgegewe is plek-plek gewis nie vir sensitiewe lesers nie, maar die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte.

“Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie en aangesien misdaadfiksie my voorkeur leesstof is, ken ek heelwat speurkarakters. Ek hou veral daarvan dat Mags nie die suiplap en rokjagter is wat al cliché geword het nie. Die persoonlike demone wat hy beveg, is eg menslik en oorspronklik aangebied .”
Jeanette Ferreira, die teksredakteur, sê van Donker spoor. “Briljant. Afskuwelik.Gebalanseerd. Dis nie elke debuut wat so daar uitsien nie. Hierdie skrywer verstaan boosheid en broosheid. Ek is werklik beïndruk.”

Oor die outeur:
Martin Steyn het begin skryf nadat hy The Dark Half deur Stephen King gelees het en danksy mense soos Jeffrey Dahmer het hy geïnteresseerd geraak in reeksmoordenaars. Die vraag het by hom ontstaan waarom hierdie mans, wat net soos die buurman lyk, ander mense jag bloot vir die plesier daarvan. Hoe is dit dat hulle vir jare tussen ander mense bly en niemand vermoed iets nie? Dis toe hy ware-misdaadboeke begin lees het.

Op universiteit was Martin se hoofvakke sielkunde en kriminologie. Hy het ‘n paar kortverhale geskryf, waarvan een, “Kira”, in rooi rose verskyn het. Na sy honneurs in sielkunde het hy Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars en geweldsmisdade bestudeer en sewe waremisdaadverhale aan die Crime Library, ‘n CourtTV-webwerf (tans onder truTV) , verkoop. Dit het onder meer gehandel oor Moses Sithole, die wrede verkragting en poging tot moord op Alison, en die Sizzlers-moorde in Seepunt.

Tog, fiksie bly sy eerste liefde. Deesdae interesseer die hele misdaadondersoek hom, en hy geniet dit veral om met plaaslike speurders en forensiese spesialiste te praat. Navorsing is ʼn kritieke deel van misdaadfiksie, maar Martin het ook aan sy skryfvaardighede gaan skaaf onder leiding van Wilna Adriaanse. Donker spoor het juis ontstaan as deel van hierdie kursus van die South African Writers’ College, wat hy met meriete geslaag het.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R214-95*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.