Boek: Doodmenslik

W.L. van der Merwe

Willie van der Merwe se debuutbundel handel oor religieuse ontnugtering, geklee in vele vorme, en is ʼn verkenning van die eksistensiele vakuum soos selde tevore in Afrikaans. Die titel sinspeel op die eenvoudige kwaliteite van die alledaagse mens aan die een kant, maar aan die ander kant op die fisiese en geestelike dood wat as goue draad deur die bundel loop.

Die dualisme tussen skoonheid en weerloosheid word van meet af aan ondersoek en die gebroke werklikheid van die digter se ervaringswêreld word treffend verbeeld. Dit is ʼn donker bundel vol swart humor, wat die weersin van erotiek en oorlog op skrydende en dikwels ironiese wyse verwoord. Dit eindig egter met ʼn evangeliese optimisme: met van die mooiste liefdesgedigte wat nog in Afrikaans verskyn het.

Oor die outeur

Willem Lodewikus van der Merwe is op 20 Oktober 1957 gebore en word groot op ʼn plaas naby Meyerton. Hy het vanaf 1975 by die Universiteit van Stellenbosch in teologie en filosofie gestudeer en het in 1990 sy doktorsgraad in filosofie behaal.

Op universiteit is hy lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. In 1987 is hy as lektor aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel. In 1998 is hy tot professor in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch bevorder en was van 2000–2003 departementele voorsitter.

In September 2008 is Van der Merwe as professor in godsdiensfilosofie aan die Vrye Universiteit van Amsterdam aangestel. Hy het verskeie publikasies (boeke en artikels) oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie publiseer. Hy woon in Utrecht, Nederland.

Sy verse word opgeneem in Nuwe stemme 3 en Groot verseboek (met André P. Brink as redakteur). Hy lees van sy gedigte voor in 2006 by Versindaba, en van sy verse word opgeneem in die geleentheidsbundel wat na hierdie fees saamgestel word.

In 2005 lees hy by Zuid-Afrika Huis in Amsterdam in Nederland saam met Bernard Odendaal gedigte voor as deel van die “Week van die poëzie”.

Sy vakkundige publikasies sluit in verskeie artikels in tydskrifte oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie en hy maak ook bydraes tot gepubliseerde boeke. Metafoor is ʼn boek oor filosofiese perspektief. Hy is redakteur van die boek Die tweede refleksie, wat ʼn keur uit die werke van Johan Degenaar byeenbring.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R170,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.