Boek: Dowe gode

Dibi Breytenbach

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ʼn oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis.

Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ʼn reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ʼn verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ʼn boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ʼn doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet.

Wat is die motief? Is dit net nog ʼn sinnelose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting?

Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ʼn gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem.

Die roman bied ʼn sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ʼn kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ʼn disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk.

Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin?

Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ʼn verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.

Oor die outeur

Dibi Breytenbach is ʼn regsgeleerde wat saam met haar gesin op die platteland van KwaZulu-Natal woon. Sy het ʼn passie vir kinders en kinderregte en spesialiseer op daardie gebied in haar professionele hoedanigheid.

Dowe gode is die skrywer se vierde boek. Saliger, Vrediger en Heiliger was die eerste drie. Hierdie roman het ʼn nuwe hoofkarakter, Aella, wat ʼn kaptein in die polisie is.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R265,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.