Boek: Elsie ontmoet ʼn geheimsinnige ysmonster

David Walliams

Elsie, ʼn weeskind wat in die tyd van koningin Victoria in Londen op straat bly, hoor van die geheimsinnige ysmonster – ʼn wolhaarmammoet wat in die Noordpool ontdek is – en is vasberade om meer daaroor uit te vind.

Wanneer Elsie van aangesig tot aangesig met die mammoet kom, word dit die avontuur van ʼn leeftyd – van Londen, oor onstuimige oseane, tot in die hartjie van die Noordpool.

Oor die skrywer

Meer as 25 miljoen eksemplare van David Walliams se boeke het al verkoop, en is sover in meer as 53 tale vertaal – Afrikaans ingesluit.

Mr Stink (Mnr. Stink, 2016), The Boy in the Dress (wat in 2017 as Die seun in die rok by Protea verskyn het), Gangsta Granny (Ouma is ʼn kroek, 2015) en Billionaire Boy (Boudebiljoenêr, 2016) is aangepas vir Britse televisie. Ratburger (Rotburger, 2015) en Demon Dentist (Die tandeterroris, 2017) het albei die National Book Awards se kinderboek van die jaar in Brittanje gewen. Dit is geen verrassing dat Walliams in dieselfde asem as sy held Roald Dahl genoem word nie.

Oor die vertaler

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasieprente vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer Geldenhuys nie besig is met vertaalwerk nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater, Binnelanders en Suidooster.

Oor die illustreerder

Tony Ross is ʼn suksesvolle kinderboekillustreerder wat bekend is vir titels soos Harry the Poisonous Centipede deur Lynne Reid Banks, en die Little Wolf-reeks deur Ian Whybrow.

Quentin Blake is een van Brittanje se bekendste illustreerders en spotprenttekenaars. Hy is veral bekend vir sy samewerking met outeurs soos Roald Dahl, en sy illustrasies het verskeie pryse verower, wat die Hans Christian Andersen-prys vir illustrasie insluit.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.