Boek: Ena Jansen vertaal Nederlandse roman

De tienduizend dingen (1955) is Maria Dermoût se allerbekendste boek en dit is in 15 tale vertaal. Dit is die sintuiglike en kaleidoskopiese verhaal van Felicia, “mevrou van Kleyntjies”, wat woon op ʼn oënskynlik paradyslike Molukse eiland, in ʼn huis aan die binnebaai.

Die opvallendste tema in Dermoût se werk is verlies: verdriet oor die dood en die afwesigheid van geliefdes, oor geweld en wreedheid, en oor eensaamheid. Verdriet word getemper deur ʼn omvattende liefde vir “dinge”: plante, skulpe, korale, golfies wat breek. Én deur berusting en aanvaarding van jou lot.

Die tienduisend dinge is die Afrikaanse vertaling van Dermoût se De tienduizend dingen. Dit is deur Ena Jansen vertaal en het pas by Protea Boekhuis verskyn.

Oor die skrywer

Dermoût (1888-1962) is op die eiland Java gebore en het “hier en daar en oral” in die destydse Nederlands-Indië gewoon. Sy debuteer in Nederland op 63-jarige leeftyd met die roman Nog pas gisteren (1951) waarin sy die herinneringe aan haar kindertyd op Java verwerk. De tienduizend dingen (1955) sou haar allerbekendste boek word.

Oor die vertaler

Ena Jansen het op Stellenbosch gestudeer en was lank verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van die Witwatersrand waar sy haar PhD verwerf het. Die grootste deel van haar akademiese loopbaan bring sy in Nederland deur en woon byna 30 jaar in Amsterdam. In dié tyd reis sy baie, onder meer dikwels na Indonesië, ook na die Molukse eilande. Sy was tussen 2002 en 2016 hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam en ook verbonde aan die Vrije Universiteit van Amsterdam waar sy gereeld oor Nederlandse-Indiese romans klas gegee het. Sy is Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg en het ’n eredoktoraat van die Universiteit van die Noordwes in 2017 ontvang. Sy is die skrywer en samesteller van verskeie publikasies oor die werk van Elisabeth Eybers (Afstand en verbintenis, 1996; Immigrant, 2021) en Anglo-Boereoorlogtekste (Boer en Brit, 1999; Ons Japie, 2016). In 2015 verskyn Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea Boekhuis) wat met die UJ-prys bekroon word. Dit verskyn ook in Nederlands as Bijna familie (2016) en in Engels as Like Family (2019).

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

hendrie ·

Waarom word ‘n Nederlandstalige roman in Afrikaans vertaal?
Maria Dermout se geskrifte is bekend, maklik lees- en verstaanbaar vir enige Afrikaner. Jy het vir seker nie ‘n graad in Afrikaans-Nederlands nodig om haar skrywes asook die van Nederlandstalige skrywers onder die knie te kry nie.
Ons het vir jare in België se Vlaams-sprekende landstreek gewoon en gewerk en het selfs moeiteloos in Afrikaans met die Belge en Nederlanders gekommunikeer. Hier en daar Afrikaanse woorde wat aanvanklik vreemd vir die ABN* spreker se oor klink met meer Nederlandstalige sinonieme vervang, soos ‘baie’ met ‘veel/vele’ ens ens. Talle koerante, Nederlandstalige geskrifte en romans gelees en begryp. Ons taal se oorsprong is dan vir die oorgrote gedeelte te wyte aan ‘n ABN herkoms!!!
*Algemeen Beskaafd Nederlands.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.