Boek: Ewebeeld

 Ewebeeld Front Cover Chosen.jpgChanette Paul

’n Onlangse uitnodiging aan Chanette Paul deur die Jungiaanse vereniging van Kaapstad toon dat sy nie bloot ’n blitsverkoper is nie, die akademici begin nou ook raaksien wat die gemiddelde leser al lankal weet: Onder die spanningsvolle oppervlakte skuil hier ’n meesterlike verteller wie se boeke op vele vlakke gelees kan word.

Ewebeeld is geskryf vir mense wat Siende blind en Raaiselspieël geniet het en daar is geen twyfel dat “gewone” lesers weer hierdie boeke gaan opraap nie. Siende blind was sestien weke lank op Nielsens se topverkoperlys – sewe keer in die top 20. Raaiselspieël was sewentien weke op Nielsen se lys, en elf keer in die top 20. Die drie boeke is beplan om saam gelees te word. En, vir almal wat van haar gehou het, Jojo Richter is terug!

Ewebeeld stel nie teleur nie. Die spanning gryp die leser reeds op die eerste paar bladsye wanneer ons agterkom dat Lanie, die derde mevrou Von Fürstenberg, ’n gevangene is in die sprokiesagtige kasteel. Wat meer is, die vorige twee vroue wat hier vertoef het, is albei koelbloedig uit die weg geruim om plek te maak vir nog ’n identiese vrou.

Die feit dat al die vroue identies lyk, is belangrik. Daarvoor sorg Ludolf von Fürstenberg se fortuin, want die plastiese sjirurge boetseer elkeen van von Fürstenberg se metgeselle na sý beeld van die ideale vrou.

Roux van Reenen word met ’n slenter ook in die kasteel toegelaat. Hy is ’n kenner van brandglas en was verantwoordelik vir die uitbeelding van die verskeie mitologiese panele op die kasteel se brandglasvensters. Vir die akademici vertel die onderskeie panele ’n baie interessante verhaal. Vir die lekkerleesleser beteken dit dat hulle begin naels kou wanneer beide Roux en Lanie besef dat daar oënskynlik geen ontsnapkans is daar nie. Die dood skyn hulle voorland te wees.

Lesers van sprokies weet egter dat kastele altyd ’n toring het vanwaar jy soos ’n voëltjie kan probeer vlieg, maar wat van die drake? Von Fürstenberg het nie eens vlieënde drake nodig nie: hy betaal oudspesmaglede om sy vuilwerk te doen.

Wat volg, is ’n uiters spannende aantal hoofstukke met gesteelde motors en oneindig baie adrenalien. Vullisdromme word deursoek, televisieprogramme word gekaap en messe trek bloed…

Die outeur

Ewebeeld is Chanette Paul se veertigste roman.

Paul is geliefd onder lesers met haar twee reekse: Die sewe historiese romans, genaamd die Davelvroue, en die vyf spanningsromans, wat in die volksmond bekend staan as die Gys Niemand-reeks.

Ná die Gys Niemand-reeks volg die Maanschijnbaai-tweeluik wat saam ’n humoristiese familiedrama vorm oor die vier Calitz-vroue van verskillende ouderdomme, en in verskillende lewensfases, wat moet saamstaan teen die samelewing.

In haar jonger dae het Chanette ’n Perskorprys gewen. Sy was al twee maal ’n finalis vir die ATKV-Prosaprys, een maal ’n finalis vir ’n ATKV-Woordveertjie in die spanningskategorie en een maal in die liefdesromankategorie.

Chanette het ook reeds twee maal die Lekkerlit-prys gewen – ’n prys wat deur lesers, nie skrywers nie, uitgeloof word.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R234.95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.