Boek: Fanie Viljoen se ‘Wêreld van wolwe 3: Derde mag’

Fanie Viljoen 

“Jou pa is ʼn moordenaar,” sis Wolfgang. “Hy moor my weerwolwe. Eendag gaan hy jou ook skiet. Wag maar, daardie dag kom.”

Joshua Reinders se lewe is ʼn gemors. Hy dra ʼn groot geheim: Hy is ʼn weerwolf. Sy pa is ʼn weerwolfjagter. Die spanning verhoog egter toe Wolfgang Lycaon in Droomhoek opdaag.

Die afskuwelike leier van die Wêreld van Wolwe glo dat Joshua aan hom behoort en hy wil die seun terughê. Of Joshua gaan sterf. Maar sal dit werklik gebeur? Joshua sal vir sy lewe moet veg en van Wolfgang ontslae raak.

Daar wag egter nuwe raaisels wat Joshua eers moet ontrafel: Hoekom het hy elke keer bloed aan sy hande as iemand in die dorp wegraak? Hoe is sy ma werklik dood? Wat is die derde mag?

Wêreld van wolwe 3: Derde mag deur Fanie Viljoen volg op Wêreld van wolwe: Eerste bloed en Wêreld van wolwe: Tweede asem. Die boeke word deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Oor die skrywer

Trefferboeke soos SlymKlouBetowerBravoLuluAksieheld Austin en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Viljoen ʼn huishoudelike naam gemaak. Viljoen het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ʼn illustreerder en visuele kunstenaar. Van sy skilderye het ʼn tuiste in die VSA, Australië, Kanada en Brittanje gevind. Sy boeke Betower en Afkop was naaswenners in twee van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisies, en hy het al ʼn rits ATKV-Woordveertjies verower. Viljoen woon tans in Bloemfontein en skryf heeltyds.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R200,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.