Boek: Frans David Oerder – Anglo-Boereoorlogtekeninge en skilderye

Frans-OerderAlexander E. Duffey

Hierdie publikasie gee ’n volledige beeld van die kunstenaar Frans David Oerder (1867–1944) se oeuvre – sy Anglo-Boereoorlogtekeninge, landskappe, genrestukke, portrette, blomstudies en stillewes, interieurs, dierestudies en grafiese werk. Geen moeite is ontsien om hierdie boek so volledig en betroubaar moontlik te maak nie.

Argivale bronne in die Kunsargief van die Universiteit van Pretoria, die Argief van die Johannesburg Kunsmuseum en die Nasionale Argief van Suid-Afrika in Pretoria het grootliks bygedra tot die toevoeging van inligting oor hierdie kunstenaar wat nie voorheen bekend was nie.

Die plakboek van Gerda Oerder en ’n lang lesing met detailinligting oor Oerder se vroeë lewe deur mev. Lorimer in die Kunsargief van die Universiteit van Pretoria het bygedra tot ’n nuwe vertolking van die lewe en werk van hierdie belangrike Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was Oerder die enigste amptelike kunstenaar aan Boerekant, maar tot dusver is nog geen volledige geskiedenis van sy deelname aan dié oorlog geskryf nie. In hierdie boek word Oerder se Anglo-Boereoorlogtekeninge nou vir die eerste keer so volledig moontlik afgedruk en beskryf.

Oor die outeur

Prof. Alex Duffey was dosent in Kunsgeskiedenis, Museumkunde en Kunsopvoeding aan die Universiteit van Pretoria, later ook hoof van die Departement Kunsgeskiedenis. Vanaf 2004 tot en met sy aftrede in 2012 was hy Hoofkurator van die Universiteit van Pretoria se Kuns- en Erfenisversamelings. Hy is nasionaal en internasionaal bekend as een van die voorste kenners van die kunstenaars Anton van Wouw, Frans Oerder en Jacob Hendrik Pierneef, asook van  Chinese keramiek en antieke handel met Suider-Afrika.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R395,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.