Boek: Franse Vlegsel

boek-Franse-vlegsel.jpgChristien Neser

Losloper. Die woord gee Elle koue rillings. Maar dit is presies wat sy vanjaar gaan wees.  Alex gaan saam met een of ander stapelgek avonturier om die wêreld vaar, terwyl sy stoksielalleen by Gravitas moet agterbly. ’n Kloosterkoek wat nie in ’n ander ou se rigting kyk nie en die Valentynsbal en die Graadelfdans gaan misloop.

Boonop lyk dit asof dit die ergste skooljaar van Elle se lewe gaan wees, want sommer op dag een verloor sy:

  • haar status as ’n meisie met ’n ou;
  • haar haarstyl;
  • haar waardigheid voor die hele skool;
  • en die silwer ketting en sleuteltjie wat Alex vir haar gegee het.

Die enigste lekker vooruitsig is die Aprilvakansie, wanneer sy en Refi saam Parys toe gaan.

Dan maak ’n aantreklike uitruilstudent met stoute groen oë egter onverwags sy opwagting, en Elle se hart begin vreemde dinge doen …

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en wee van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Die sesde boek in die reeks beloof om net so skreeusnaaks, aweregse en romanties soos sy voorgangers te wees.

Oor die outeur:

Christien Neser is ’n opgeleide spraakterapeut wat onder meer ’n honneursgraad in Frans en ’n meestersgraad in toegepaste linguïstiek agter haar naam het. Sy het ook die Goethe Institut se Zertifikat Deutsch voltooi, en basiese Spaans onder die knie gekry voordat sy in 2008 die Inka-roete gaan stap het. Christien en haar man, Thys, is in Parys, Frankryk, getroud, maar woon deesdae in Bryanston, en het drie kinders, Louise, Michael en Chris. Haar voorliefdes is haar man en kinders, tale, skryf, lees, Britse humor, Franse flieks, sudoku, die gesin se stoute Jack Russells, vakansies in ongerepte plekke, vriendinne, stap, ski, tandem- en bergfietsry.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R119.95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.