Boek: Gabriella en die Hertog van Harte

gabriella

Marga Jonker

Gabriella wil haar oorlede ma se geliefde perd se bloedlyn op hulle plaas in Namibië hervestig. Donnabelle was ‘n Oldenburger, ‘n skaars warmbloedige Europese perd. Gabi wend ‘n groot poging aan om Donnabelle se nageslag op te spoor, omdat sy hoop dit sal haar bande met haar oorlede ma versterk en sorg dat haar pa, wat pas weer getrou het, haar ma sal bly onthou. Noodgedwonge moet Gabi en haar stiefma saamwerk om Duke, oftewel, die “hertog van harte” te gaan soek. Die soektog neem hulle na ‘n landbouskool in die Boland. Duke is ’n humeurige perd en die enigste raad is om Robert, ‘n Gr 10-leerder met ‘n sonderlinge talent om met moeilike perde te werk, saam met Gabi-hulle terug Namibië toe te laat ry.

Oor die outeur:
Marga Jonker is gebore op 6 Februarie 1964 op Vredenburg aan die Weskus. Sy het grootgeword op ‘n plaas tussen Paternoster en Stompneusbaai.  Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg in 1981. Sy het ‘n onderwysdiploma aan die Wellington Onderwyserskollege, ‘n BA graad met Xhosa en Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n Verdere Diploma in Vroeë Kinderontwikkeling aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Marga is tans die Xhosa derdetaal-onderwyseres aan die Voorbereidingskool Durbanville waar sy graad 2- en 3-kinders bekendstel aan Xhosa as derde taal.  Sy skryf en ontwikkel die kurrikulum hiervoor en maak rympies en stories om by haar materiaal te pas. Sy glo veeltaligheid lei tot multi-kulturele ontwikkeling. Sy wou van kleins af graag skryf en het gedigte in haar dagboeke geskryf.  Sy het egter eers in haar veertigerjare dapper genoeg gevoel om van haar werk in Afrikaans aan uitgewers voor te lê. ‘n Prenteboek, Wat is jy Kartoffel, (Lapa Uitgewers, 2010) deur die skrywer en die illustreerder Alzette Prins is deur die Namibiese Kinderboekforum bekroon.
Marga en haar eggenote, PG, woon in Durbanville saam met hulle drie kinders,  Hardus, Anita en Chris-Jan.

Klik hier om die boek te koop.
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R130-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.