Boek: Geloof anderkant Sondag

geloof anderkant sondag

Julian Müller

‘n Groeiende groep gelowiges voel vandag ontnugter en teleurgesteld deur die kerk. Hulle noem hulself steeds Christene, maar kan nie meer met die georganiseerde godsdiens en ‘n strenge kerklikheid identifiseer nie.

In Geloof anderkant Sondag antwoord die teoloog Julian Müller op hul noodkreet. Hy probeer ‘n nuwe geloofstaal te ontwikkel wat ‘n geloofwaardige teologie vir vandag kan wees.

Müller verduidelik die verskil tussen wat hy ‘n “Sondag-geloof” noem en dit wat hy as geloof anderkant Sondag beskryf. ‘n Sondag-geloof hang ten nouste saam met kerklike dogmas en vaste gebruike. Dit bied ‘n duidelike stel reëls en verwagtinge waaraan gelowiges moet voldoen, asook vasgestelde rituele waarbinne hulle uiting aan hul geloof kan gee.

Om anderkant Sondag te glo, laat weer meer ruimte vir die onsekerhede van die lewe en die geloof. Dit is nie gebaseer op ‘n letterlike verstaan van die Bybel nie en behels ook ‘n ander verstaan van God met groter klem op persoonlike spiritualiteit. Müller gebruik sy eie vrae en vertwyfelings as vertrekpunt vir die boek. In sy soeke na antwoorde gebruik hy treffende voorbeelde uit sy eie lewe om te verduidelik hoe daar anderkant Sondag geglo kan word.

Oor die outeur:
Julian Müller is ‘n emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria (UP), waar hy by sy aftrede adjunkdekaan van die Fakulteit Teologie was. In 2011 het hy groot sukses behaal met sy boek Om te mag twyfel. Hy het ook al verskeie ander boeke vir die akademiese en die algemene mark op sy kerfstok, waaronder Opstanding wat in 2006 groot debat in die Afrikaanse media ontlok het. Müller het in die 1990’s die Andrew Murray-prys vir Christelike literatuur ontvang vir Die erediens as fees. Hy is steeds deeltyds by die UP betrokke, onder meer as deel van ‘n interdissiplinêre span wat navorsing doen oor die konsep van ubuntu in menslike en gemeenskapsontwikkeling.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.