Boek: Gelyke kans

Gelyke-Kans-Voorblad.jpgSantie van der Merwe

Nadat haar kinders uit die huis is, stort Jessica de Lange haar hart en siel in haar nuwe oudhedebesigheid. Haar lewe het weer rigting en betekenis. Die toekoms saam met Anton, haar man van baie jare, lyk rooskleurig, maar toe ruk Anton die mat onder haar voete uit: Daar is iemand anders in sy lewe, en Jessica moet opsy staan.

Verward, gekrenk en verneder vlug sy na hulle strandhuis om haar wonde te gaan lek en haar toekoms, alleen, in oënskou te neem. ’n Onverwagse ontmoeting met ’n jeugliefde ontspoor haar egter weer. Tussen haar en Joe vat ’n passie vlam wat al die jare smeulend bly lê het. Jessica weet egter sy moet eers die vorige hoofstuk in haar lewe afsluit, dat sy eers ’n egskeiding moet kry voordat sy en Joe enige kans op geluk kan hê.

Intussen begin Anton se verhouding met die jonge Esmie krakies wys. Anton besef hy het die grootste fout van sy lewe gemaak en hy pleit dat Jessica hom ’n kans moet te gee. Staan hy ’n gelyke kans teen Joe?

Jessica stem huiwerig in om Anton ’n kans te gee, maar sy val nie bloot vir enige een van die twee nie. Sal sy ooit weer vir Anton kan vertrou? En Joe? Waarom moet sy hóm nou vertrou ná al die jare?

Gelyke kans is ’n eerlike boek oor ’n vrou wat eers met haarself moet vrede maak voor sy haarself weer aan ’n man wil gee, maar wat ook eerlik genoeg is om te weet dat sy nie haarself die waarde van ’n maat moet ontneem bloot om sterk te wil voorkom nie.

Lof vir die manuskrip

Chanette Paul sê van Gelyke kans: “Daar is min dinge wat lekkerder is as om ’n manuskrip van ’n ongepubliseerde skrywer op ’n mens se lessenaar te kry en te weet hier is ’n skrywer van die toekoms. Ek kan die boeke al sien opstapel.”

En op LitNet se blogs sê Izak de Vries: “Ek was beïndruk met Gelyke kans, want dit is so eerlik. ’n Vrou kán sonder ’n man klaar kom, maar mans en vroue mag hunker. Jessica is geskets op ’n manier dat ek haar soos ’n vriendin sou wou koester. Boonop, tot op die heel laaste bladsy het ek nie geweet wat haar finale besluit sou wees nie. Dít wil gedoen wees. Gelyke kans is ’n puik debuut. Ek kan nie wag vir meer boeke uit hierdie skrywer se pen nie.”

Oor die outeur:

Santie van der Merwe is ’n tuisteskepper wat meer hou van lees as van afstof, en meer van skryf as van stryk.

As jong tuisblyma van twee kinders steek sy voelers uit, en publiseer ’n paar tydskrifverhale. Toe haar jongste kind universiteit toe is, skryf sy in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse wedstryd, en wen die tweede prys vir haar kortverhaal, “’n Dag in Junie”. Dit was net genoeg motivering om haar hekelpen neer te sit en haar hand aan ’n liefdesroman te waag.

Santie woon nou saam het haar man, seun, kat en hond in Centurion.

UITGEWER: LAPA UITGEWERS
PRYS: R199.95*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.