Boek: ‘God – Is daar ʼn ander antwoord?’

Ben du Toit

Die manuskrip van God – Is daar ʼn ander antwoord? was nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was aanvanklik ʼn bestekopname van die skrywer se betrokkenheid by en blootstelling aan die NG Kerk-familie waarin hy gebore is, grootgeword en uiteindelik as predikant gedien het.

Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ʼn Postmoderne tyd, is in 2002 met die gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon. Dit het ʼn woordeskat vir talle ander mense se reis gebied. Amper twee dekades later neem hy die vraag oor God en die relevansie van godsdiens en geloof verder.

Vir baie mense sal sy jongste boek nie ʼn gemaklike leeservaring wees nie. Daar sal egter lesers wees wat ʼn eie bevrydende ervaring in hul verhouding met die kerk, geloof en met God sal beleef deur die boek te lees. En wat boonop ʼn woordeskat sal vind.

Die afronding van die teks het aan die begin van die wêreldwye Covid-19-pandemie plaasgevind. God – Is daar ʼn ander antwoord? toon hoe die vraag na die betrokkenheid van God gevra word, net soos telkens in die verlede tydens ander krisisse.

Net soos wat die Covid-19-pandemie ʼn nuwe era inlui, kan dié publikasie ʼn nuwe denkraamwerk ten opsigte van geloof inlui.

Hier word baie name genoem en na vele stemme geluister. Uiteindelik gaan dit nie oor hulle as individue nie, maar wel, kollektief, oor Die Kerk – ʼn bepaalde verteenwoordiging van die verskynsel wat godsdiens genoem word. Maar inderwaarheid gaan dit nie eens oor hulle nie, maar oor God – terwyl die enigste manier waarop ons iets van God kan weet, deur die woorde en lewens van mense is.

Oor die skrywer

Dr. Ben du Toit is ʼn voormalige kommunikasie-direkteur van die NG sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Hy is in 1950 in Malawi gebore. Du Toit het ʼn BA- en teologiegraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en sy meesters- en doktorsgraad aan die Universiteit van Port Elizabeth verwerf ná buitelandse navorsing by die Graduate Theological Union in San Francisco, VSA. Sy vorige boek, God? Geloof in ʼn Postmoderne tyd, is in 2002 met die Andrew Murray-prys bekroon en in 2012 heruitgegee.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.