Boek: ‘Goed, beter, Betsie’ – Elize Labuschagne

Elize Labuschagne

Goed, beter, Betsie deur Elize Redelinghuys-Labuschagne-Hull is ʼn outobiografie en humoristiese vertelling oor haar kinderjare in Pretoria-Wes.

Haar pa het lewenslank boekminderwaardig gevoel omdat hy nie kon gaan studeer nie. Sy pa het sy grond verloor en hy moes vroeg die skool verlaat om te gaan werk. Hy onderskei hom in die spoorweë, maar die drankduiwel ry hom (en die gesin). Geen kind van hom hoef te gaan leer nie, glo hy.

Die verteller self spring duidelik en onweerstaanbaar uit die bladsy regop – iemand wat, in haar eie woorde, al soos ʼn haas verskrik is deur haar pa, maar wat haar eenvoudig nie laat onderkry nie. Sy sou gaan leer, buig of bars. En sy het nie opgehou voordat sy ʼn doktorsgraad verwerf het nie.

Oor die skrywer

Redelinghuys-Labuschagne-Hull se belangstellings en beroepe is so uiteenlopend soos haar vanne en sy glo hierdie afwisseling hou haar op haar tone.

As bekende binnenshuisontwerper voltooi sy wêreldwyd projekte wat wissel van ambassadeurswonings en privaat huise tot hospitale en kantore.

Sy fokus sedert 2005 haar kreatiwiteit op produkontwerp en saam met haar man, Rodney, bou en bedryf sy “Tassels & Treasures”, ʼn groothandelfirma waar sy die ontwerp, vervaardiging en bemarking van haar eie interieur- en geskenkreekse hanteer, terwyl Rodney die wiele van invoer- en sakebestuur laat rol. Hiervoor reis hulle wyd en gereeld, onder meer 24 keer na China en omliggende lande in die Ooste. In 2016 verkoop die Hulls hul onderneming. Sedertdien leef Elize haar lewenslange passie vir reis en fotografie uit. Sy is ʼn internasionaal bekende en bekroonde wildlewefotograaf wat die wêreld deurkruis vir die perfekte skoot van bedreigde spesies in afgeleë plekke. Suid-Amerika is haar gunstelingkontinent vir fotografie, naas haar geliefde Afrika.

Sy is ʼn gerespekteerde kultuurhistorikus en kenner van ou Transvaalse boerewonings en periode-interieurs. As entoesiastiese versamelaar en navorser van antieke Transvaalse meubels werk sy tans aan ʼn fotoboek oor die onderwerp.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by
Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.