Boek: Haar ma se kind

haar ma se kind

Helena Hugo

Jo-Anne Stals woon in Londen. Sy besluit om die leuen waarmee sy al so lank leef uit die weg te ruim. Dit raak egter haar ouers en veral haar ma, Dora en ook haar dogter, Dania. Sy weet nie of sy die regte ding doen nie. Dalk doen sy eindelik die regte ding, maar op die verkeerde tyd? Dora is ’n steunpilaar in die gemeenskap, maar as gevolg van haar werk as verpleegsuster en liefdesdade as kerksuster is sy op die rand van ineenstorting. Sal sy Jo-Anne se aksie oorleef?

Oor die outeur:
Die veelsydige Helena Hugo was onder meer aktrise, dramadosent en uitgewer. Sy skryf en regisseer sedert 1978 vir die radio – kleuterstories, jeugdramas asook sepies soos Blinkwater en die onlangse Mooi mense. Voeg hierby 8 enkeldramas waarvan 3 met RSG/Sanlamdramawedstryd-eerstepryse bekroon is en een, Swane, met ’n ATKV-veertjie.

Deesdae skryf sy voltyds vir verskeie uitgewers en 52 boeke het reeds uit haar pen verskyn. Tien van haar liefdesverhale het vir Tafelberg by Hartklop, Melodie en Satyn verskyn.

In 2013 neem sy vir eers afskeid van die genre en spits haar toe op Christelike fiksie. Haar naam is Ragel verskyn in 2013 by Lux Verbi/Tafelberg. Dit word in 2014 opgevolg met topverkopers Marta en Ter wille van Talita.

Van hierdie genre sê sy: “Christen-fiksie gee my die ruimte om die mens in sy verhouding met God subtiel en met deernis te beskryf. Ek bid en hoop dat dit tot eer en verheerliking van sy Koningkryk sal geskied en lesers vertroos en verryk. Ek leef met die leuse: God is liefde. My raad is: Die lewe is kort, doen dit nou, gebruik wat jy het en moet nooit ’n mooi ding in die kas laat lê nie.”

Helena is getroud met Henk Hugo en hulle woon in Roodepoort. Daar is drie kinders uit die huwelik gebore – Eben, ’n webmeester met ’n MA in filmgeskiedenis, Helena, ’n intenasionaal-erkende portretskilder en Sanet, ’n voltydse navorser met ’n PhD in dierkunde.

Klik hier om die boek te koop.
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R165-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.