Boek: ‘Hans hou sy lyf Sherlock’ – Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg 

Hans van Kraaienburg is mos nie onder ʼn kalkoen uitgebroei nie, en hy ken geldsake. Hý sal hom nie met ’n piramideskema laat vang nie… of hoe?

Toe Huis Madeliefie se mense onder ʼn gladdebek-skelm deurloop en hul kosbare geldjies soos mis voor die son sien verdwyn, trek Hans sy kuite styf. Dié swendelaar se akker gaan nie ongekraak bly nie, besluit hy. Toe die polisie ʼn beloning uitloof aan enigeen wat hulle na die skurk kan lei, neem Hans die handskoen met mening op. Met behulp van ʼn mankolieke bussie en karavaan, mannemoed en vrouedaadkrag gaan Hans en trawante op die oorlogspad Weskus toe. Javel Davel sál hul geld teruggee, of Hans laat los Nella en haar magtige bloomers op hom… Maar twee geslepe broers, Hans se paranoïese dogter en ʼn venynige Valke-kaptein belemmer Hans se Sherlock-speurtog telkens.

In die jongste aflewering van Hans en sy manewales volg lesers die geliefde ouetehuiskommando tot by Paternoster se Panty Bar, en anderkant uit. Maar gaan hul beursies maer bly?

Hans hou sy lyf Sherlock is die vierde roman in Rudie van Rensburg se komiese reeks oor Hans van Kraaienburg en verlosser van Huis Madeliefie se oumense. Dit volg op Hans bars die bioborrel (2021), Hans gee Herklaas horings (2020) en Hans steek die Rubicon oor (2017).

Oor die skrywer

Van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy het sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad begin, was medestigter en uitgewer van Bloemnuus en later redakteur van Die Ekonoom. In 1987 het hy Kaap toe verhuis. Sy skilderye is plaaslik en oorsee in versamelings opgeneem. Sy romans sluit in Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze, Ys, Medusa, Vloek, Merk, Hartedief en Monster.

Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R250,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.