Boek:  Hartsgesprekke met …

Hartsgesprekke.jpgMarius du Plooy

Wat sou mense soos Nelson Mandela, Jean de Villiers en Riaan Cruywagen vir jou sê as jy so ’n bietjie saam met hulle kon sit en gesels?

In Hartsgesprekke met … gee Marius du Plooy vir elke leser die geleentheid om self te kom luister en die raad, lewenswyshede en inspirasie van hierdie en ander baanbrekers saam te neem op hul eie pad. Die boek bevat onderhoude met 28 sakeleiers, sportlui, kunstenaars en ander bekendes soos Natalie du Toit, Brand Pretorius, Regardt van den Bergh, Carike Keuzenkamp en Elvis Blue.

Hartsgesprekke met … voer lesers mee op ’n opwindende reis om die mense agter die name te ontmoet. Leer ken die hart van hierdie groot geeste en kyk met ’n nuwe oog na hul verhale, want dit is hier waar wysheid oorgedra word.

Hartsgesprekke met … is nie ’n lys prestasies en bewyse van verwesenlike drome nie – dis die saamkom van harde werk, vermeng met ’n goeie dosis struikelblokke, wat uitloop op mense wat hul passie vir Christus by elke geleentheid wil uitdra.

Met hierdie versamelstuk kan lesers waarlik agteroor sit en dit sal voel of hulle saam om die koffietafel sit en stories uitruil. Die boek sluit af met ’n spesiale “onderhoud” met Jesus en word stylvol afgerond met pragtige swart-en-wit foto’s.

Oor die outeur:

Marius du Plooy was joernalis, radio-omroeper, TV-aanbieder, akteur en tydskrifredakteur. In die laat 1970’s was hy die SAUK se korrespondent in Holland en ook omroeper/verslaggewer by Radio Nederland in Hilversum. Daarna was hy joernalis by die dagblad Die Transvaler voordat hy verslaggewer en later redakteur van die RSG-aktualiteitsprogram Monitor geword het. In die 1980’s was hy mede-aanbieder van die eerste regstreekse tydskrifprogram op TV, Potpourri. Hy was ook akteur in verskeie TV-reekse en rolprente en het later sy eie skakelmaatskappy en advertensie-agentskap begin. Sedert hy in die Kaap nesgeskop het, is hy omroeper by Radio Tygerberg 104FM. Hy was ook jare lank redakteur van die glanstydskrif Indruk.

Uitgewer: CUM-Uitgewers
Prys: R139,95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.