Boek: ‘Hier waar ek nou is’ – Matty Strydom

Matty Strydom

Hier waar ek nou is is die kroniek van ʼn ma se reis ná die selfmoord van haar 19-jarige dogter, Jessica. Die boek dek die intense fases van rou en verlies. Dié verkenning is verweef met haar eie reise na Suidoos-Asië en ander, soms ongewone, bestemmings.

Jess laat geen brief agter nie. Ma en dogter was na aan mekaar, al twee hoogs kreatief en passievol. Matty gaan op reis om huis te hou met haar smart. In dagboekinskrywings praat sy met Jess, probeer sy sin maak en bo alles probeer sy haar dogter se besluit en dood eer soos sy haar lewe geëer het. Dit is ʼn voortgaande gesprek wat liries en kreatief van aard is. Dit is ook fragmentaries soos ʼn spieël wat versplinter het, met baie lig tussen die skerwe.

Die boek is in drie dele: Die eerste gedeelte handel oor die onmiddellike nadraai van haar kind se dood, daarna volg ʼn verslag van die skrywer se oorbruggingsjaar in Maleisië waar Jessica haar onsigbare reismaat is, en in die derde gedeelte van die verhaal is Matty terug by die huis waar sy met borskanker stoei en haar 98-jarige ma tot dié se dood versorg.

Oor die skrywer

Matty Strydom is ’n onderwyser wat Engels as tweede taal onderrig en het al regoor die wêreld skoolgehou. Sy is ʼn leser, ʼn soeker na antwoorde en skoonheid. Strydom het dagboek gehou in haar donkerste dae en bewys hiermee dat krake die plek is waar lig inkom, dat die gebreekte kruik versterk word wanneer dit met goudbeleg weer aanmekaargeplak word. Met Hier waar ek nou is maak Strydom haar debuut as skrywer.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.