Boek: Hond se gedagte

Kerneels Breytenbach

Fleur de Villiers is nie ’n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel Maurice Kumalo haar vra om ’n biografie oor die Springbok-rugbykaptein Katstert Nel te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Haar voorliefdes in die lewe behels eerder fynere dinge, soos ondersoekende joernalistiek, goeie kos en wyn. Wat op aarde weet sy van rugby, so op die vooraand van die Wêreldbekertoernooi in die jaar 2025?

Daar wag ‘n groot verrassing op Fleur. Want in die domein van Jaap Schvantz en sy eggenoot Krystle, aan die hoof van Corpus Christi se kolossale besigheid (deesdae is die kerk en rugby één), is daar ‘n klankie in die lug. En Fleur, ervare joernalis wat sy is, kry gou snuf in die neus. Hond se gedagte is ‘n hoogtepunt in Kerneels Breytenbach se oeuvre. Dit is ‘n roman wat spreek tot rugbykenner en rugbyleek. Want wat is rugby anders as ‘n metafoor vir die lewe – net een span kan wen, en nie almal volg altyd die reëls nie…

‘n Verrassende, hoogs vermaaklike roman.

Oor die outeur:

Kerneels Breytenbach debuteer in 1992 met Morsdood van die honger, ’n bundel kortverhale, en volg dit in 1993 op met die roman Glimlag. Hy ontvang die CNA-debuutprys vir Morsdood van die honger. ’n Resepteboek, Die lekkerste lekker, het in 2005 verskyn en Die ding tussen man en vrou in 2009.

Hy was ’n popmusiek-rubriekskrywer en het restaurantresensies vir publikasies soos HuisgenootDe Kat en Insig geskryf. Hy het daarna lank as uitgewer by Human & Rousseau gewerk en met sy aftrede in 2009 was hy publikasiebestuur by NB-uitgewers.

Hy woon op Bettysbaai.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R320-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.