Boek: Immer Wes

Immer-wes.jpgIrma Joubert

“Irma Joubert se nuutste boek, die eerste van ’n oorlogtrilogie, is nog nie eens in Suid-Afrika     op die rakke nie maar die vertalings in Nederlands en Duits is reeds afgehandel. Só suksesvol is dié Bloemfonteinse skrywer in die buiteland.” (Elretha Britz, Volksblad)

’n Dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel, ’n liefdelose ma, ’n pa wat omgee – wel, meestal. Só begin Hildegard se verhaal … In 1914, toe die donker wolke wat oor Europa saamgetrek het, uiteindelik in die Groot Oorlog uitbreek, leer Hildegard vir die eerste keer hoe lelik die lewe daar buite is, hoe afskuwelik oorlog, en wat ’n misleidende woord “oorlogshelde” is. Haar kinderlike verering van die Duitswester Gustav los op in die vlaktes van sy geliefde land waarheen hy terugkeer. Sy trou met ’n man – haar vader se keuse, as mens dit ’n keuse kan noem – wat min vreugde in haar lewe bring.

Teen die tyd wat die Tweede Wêreldoorlog ten einde loop, is sy intiem vertroud met die pyn van verlies en onderdrukking, armoede en hongersnood, en meer as ooit haat en verag sy oorlog. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind.

Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.

Hierdie lekkerleesroman wat strek oor die twee Wêreldoorloë en uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië eindig beloof om Irma Joubert se lesers weer weg te voer na lande en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos altyd is die styl maklik, maar soos soveel keer te vore is, wys Joubert ook die donker kant van die mens.

Oorlog is verskriklik. Gelukkig is daar altyd hoop in al Irma Joubert se romans.

Oor die outeur

Immer wes is die eerste boek in haar nuwe trilogie. Al drie verhale het as kern die lyding van vroue en kinders. Joubert sê “dit maak nie saak wie die vyand is nie, die vergrype teen die mens is dieselfde. Sodra honger oorneem, word die mens soos ’n dier”.

Immer wes is haar tiende boek. Sy het ongekende welslae in die buiteland behaal met ses van haar boeke wat reeds in Nederlands vertaal is. Dit sluit Ver wink die Suiderkruis, Tussen stasies, Tolbos, Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad in.

Sedert Tussen stasies in 2011 as Het Meisje uit de Trein uitgereik is, het Joubert se gewildheid jaarliks toegeneem en altesaam 85 000 eksemplare van die ses titels het reeds verkoop.

Ook die Amerikaners is opgewonde oor die stukkie Suid-Afrikaanse goud wat hulle raakgeboor het. HarperCollins was nog nie eens klaar met die vertaling van Tussen stasies nie, toe vra hulle nog van haar boeke aan.

Tussen stasies heet in Engels The girl from the train en dit sal later vanjaar ter plaatse beskikbaar wees. Die boek is in die VSA gekies deur die Target Book Club en dit beteken dat die eerste oplaag aldaar ’n minimum van 40 000 sal wees.

Tussen stasies is ook al in Duits vertaal en is ook daar ’n reuse-sukses. Dis reeds in ’n vierde druk, al is Das Mädchen aus dem Zug eers in 2014 uitgereik. Die vertalers werk nou daaraan om ook Ver wink die Suiderkruis op Duitse winkelrakke te kry.

Uitgewer: LapaUitgewers
Prys: R239.99*
*Prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.