Boek: In Christus Alleen

 In-Christus-alleen_-Boek.jpgVictor Kuligin & Robert Yarbrough

In Christus Alleen is ’n diepgaande studie oor die vyf solas en hulle praktiese implikasie vir hedendaagse Christene.

In 2017 vier ons die 500 jaar lange herdenking van die Hervorming. Die beweging het ontstaan uit mense soos Martin Luther en Johannes Calvyn se ontevredenheid met die wanpraktyke van die Rooms-Katolieke Kerk van die 16de eeu. Dit was ’n beweging wat die Christendom en Christelike kerk vir ewig sou verander.

Die Protestantse Hervorming het oor basies vyf groot punte met die Rooms-Katolieke verskil. Hierdie punte word bondig weergegee in die vyf solas, wat vandag as die boustene van die Protestantse Kerk beskou kan word:

  1. Sola Scriptura – die Skrif alleen
  2. Sola Gratia – deur genade alleen
  3. Sola Fide – deur geloof alleen
  4. Solus Christus – in Christus alleen
  5. Soli Deo Gloria – tot eer van God alleen

In Christus alleen kyk na die historiese erfenis van elke sola. Dit doen ’n diepgaande ondersoek na wat elk van die solas behels en hulle praktiese implikasie vir hedendaagse Christene. Elke hoofstuk gee ’n aanhaling en biografiese inligting oor ʼn baie bekende hervormer, asook sleutelteksverse om die betekenis van die sola verder te verduidelik.

In Christus alleen met sy luukse leerbuiteblad is ’n pragtige en insiggewende boek, geskik vir enige naslaanrak.

Ook beskikbaar in Engels onder die titel In Christ Alone.

Oor die outeurs:

Dr. Victor Kuligin (DTh, Universiteit van Stellenbosch) is ’n senior dosent by die Bybelinstituut van Suid-Afrika in Kaapstad waar hy ook as Dekaan van Akademie dien. Hy het voorheen 14 jaar sendingwerk gedoen in Namibië waar hy by die Namibia Evangelical Theological Seminary klas gegee het. Hy is ’n skrywer, internasionale spreker en gasdosent in lande soos Indië, Bulgarye, Soedan, Ethiopië en Rwanda.

Dr. Robert Yarbrough (PhD, University of Aberdeen) is professor in Nuwe Testament by die Covenant Theological Seminary in St. Louis, Missouri, VSA. Hy het voorheen klas gegee by Trinity Evangelical Divinity School en Wheaton College. Hy is skrywer, medeskrywer en vertaler van verskeie boeke en artikels. Hy is sedert 1989 betrokke by teologiese opleiding in Afrika (Egipte, Suid-Soedan, Suid-Afrika).

Uitgewer: CUM-Uitgewers
Prys: R149.95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.