Boek: Inboekeling

inboekeling B

Hans du Plessis

Hy word met ʼn riem op die werf aangesleep. ʼn Seun. ʼn Vreemdeling. Van balans af op sy lomp voete, die slaphandhoed diep tot op sy bakore getrek, rooi in die gesig van die riem om sy nek. Die mense wat hom staan en aangaap, is nie vreemdelinge gewoond nie. Hier waar hulle woon, het niemand vantevore gewoon nie. Hul leier het hul trek ʼn jaar of ses gelede tot hier gelei, met sy veldskoen se hak in die grond gekap, sy groot hand besitlik gewuif en die gebied tot sy eiendom verklaar. Hier is sy woord wet. Die sieleherder het sy gesag uit die Bybel bekragtig. Ook oor die inboekeling, daardie kinders wat ná skermutselinge met die inheemse teruggebring is laer toe. Die pa’s en die ma’s het hulle geskiet – veediewe, almal van hulle – en die kinders is weggevoer om as slawe groot te word.

Inboekelinge.

Die seun aan die tou sien ʼn swart meisie vanuit ʼn tuitkappie na hom staar. Eers later, toegesluit in ʼn smidswinkel, sal hy agterkom wie en wat sy is. En as hy saamgeneem word op ʼn ekspedisie om gesteelde vee terug te kry, sal hy te staan kom voor die godskreiende werklikheid van háár lewe: ʼn kind wat tussen die lyke van haar ouers opgeraap en op die saal van ʼn ruiter weggevoer is.

En dit sal hierdie eenvoudige seun wees, wat aan ʼn riem op daardie trekkerswerf aangesleep is, wat dit in die hinterland tuisbring dat daar geen durender band is, gʼn tou so sterk nie, soos die verbintenisse wat die hart aangaan.

Oor die outeur:
Hans du Plessis is ʼn woordmens van formaat: navorser, akademikus, direkteur, dramaturg, rubriek-, roman- en jeugboekskrywer. Hy ontvang verskeie pryse vir sy skryfwerk, o.a. die C.R. Swart-prys, die ATKV-kinderboekprys, ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie en in 2002 ontvang hy die prys vir die beste Algemene Christelike boek van die CBSA (Christian Booksellers Association). Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwagedigte waarvan meer as 65 000 eksemplare verkoop is.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R200-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

aloma van der merwe ·

As ek n geldtjie het gaan ek dit investeer in die boek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.