Boek: ‘Inferno’ – Cas Vos

Cas Vos

Wie met Cas Vos se Die goddelike komedie (2017) kennis gemaak het, sou ʼn smakie gekry het van sy uitnemende vertaling van gedeeltes uit die Inferno (I, 1-6; XXVI, 112-120), asook toeligting in sy inleiding en aantekeninge ten opsigte van die historiese en kulturele konteks en die bepaalde verspatroon (die rymende tersine).

Sy meesterlike Il Paradiso (2018) het hierop voortgebou en verder bewys gelewer van sy vernuf om vorm en taal te beheer en ʼn ware tour de force te skep. Met die huidige bundel kry die leser die volledige Inferno, weer eens met vertaling in rymende tersines, ʼn inleiding en verklarende aantekeninge.

Hierdie vertaling van Dante se Inferno is die eerste rymende versvertaling in Afrikaans en ʼn unieke bydrae tot die groeiende skat van Afrikaanse vertalings van die wêreld se meesterstukke. Versvertaling op hierdie vlak en skaal vereis hoë tegniese vaardigheid, sterk skeppingsdrang, volgehoue toewyding en besondere taal-vermoë – en ’n groot dosis entoesiasme, passie en liefde.

Oor die skrywer

Cas Vos is ʼn Afrikaanse digter, teoloog en akademikus. Hy was van 2004 tot 2006 die president van die Internasionale Homiletica Societas en het reeds 12 digbundels die lig laat sien.

Vos se vertaalde werke sluit in ʼn vertaling van Hooglied uit Hebreeus, Fragmente uit die Ilias en die Odusseia van Homeros uit Grieks. Hy het ook Dante se Il Paradiso uit Italiaans vertaal.

In 1999 is Die volheid daarvan. Deel 1 en 2 met die Andrew Murray-prys bekroon en die Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 2001 die ds. Pieter van Drimmelen-medalje aan Vos toe vir sy bydrae tot die Christelike literatuur.

Inferno kos R260 en is beskikbaar per bestelling of op Naledi Uitgewers se webwerf. Om die bundel te koop stuur ʼn e-pos na Tertia Swart by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.