Boek: Joernalis se memoires oor sy verliese, oorwinnings gee hoop

Herman Lategan 

Herman Lategan word wyd gerespekteer as joernalis, en is berug sowel as beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In sy memoires Hoerkind, die memoires van ʼn randeier, oftewel ʼn buitestander, vertel hy sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder doekies omdraai.

Hy word vroeg reeds ʼn hoerkind (onder meer deur die NG Kerk) genoem omdat hy in 1964 buite die eg in Kaapstad gebore is. As seuntjie word hy brandarm groot, daar is ʼn skaarste aan kos, en hy en sy ma leef gereeld op witbrood en swart koffie.

Op ses gaan hy vir ʼn jaar kinderhuis toe. Van jongs af het hy soos ʼn weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee.

Sy ma trou later met ʼn druiweboer van Lutzville. Tydens skoolvakansies as hy vir haar gaan kuier, raak die boer besope en rand hy hulle aan. Hy probeer hom verkrag, maar sy ma stop dit. Dié boer noem hom aanhoudend ʼn hoerkind en skiet met ʼn geweer op hulle. Vele nagte moes hy en sy ma in die wingerde gaan skuil. Nadat sy ʼn mastektomie kry, verban hy haar na die spaarkamer.

Lategan bring gelukkige tye deur in Van Wyksdorp op sy stiefoupa, Hannes Snyman, en stiefouma, Elga, se plaas by Van Wyksdorp, waar hy sommige naweke gaan kuier. Hier leer hy appelkose pluk, skape aanjaag, in die plaasdam swem, visvang en oor die wondere van roosterkoek.

Op 13 beland hy in die kloue van ʼn geslepe pedofiel, ʼn bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas na sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Lategan sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai.

In sy tienerjare raak Lategan bevriend met Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J Toerien en Casper Schmidt. Hy studeer onder die akteur Babs Laker. Hulle tree op as mentors en verbreed sy denke.

Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in 1986 in New York aan, waar hy onder andere vir die kunstenaar Andy Warhol op straat agtervolg. In hierdie groot stad word hy aan ʼn kosmopolitiese wêreld blootgestel en beleef hy ʼn samelewing sonder apartheid, waar mense van alle kleure gelukkig saamwoon. Dit gee vir hom nuwe insigte oor Suid-Afrika.

Herman Lategan se biografiese boek ‘Hoerkind’ het pas verskyn. (Foto: Verskaf)

Terug in dié land beland Lategan alleen en verarm op straat, maar word later deur ʼn vriendin se ma gered. Hy maak later opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis, ook Antarktika.

As volwassene voer hy ʼn stryd met drank en dwelms, en beland hy oor ʼn kort tydperk in vyf rehabilitasiesentrums. Hy woon vir ʼn jaar in die Heilsleër. Omdat hy aan bipolêre gemoedsteurnis ly, word hy met sy gemoedskommelinge vir menige werkgewer die nagmerrie wat hulle die ergste vrees.

Een aand word hy gyselaar gehou en met ʼn mes gesteek. Hy verloor byna sy been ná ʼn motorongeluk tydens ʼn besoek aan die oudrugbyspeler Mannetjies Roux se plaas.

Oor die skrywer

Lategan is ʼn bekroonde joernalis en skrywer van Groenpunt. Oor die jare skryf hy vir oor die 50 tydskrifte, koerante en webblaaie, onder meer Vogue Entertaining + Travel, Time Out, House and Leisure, Cape Style, Mail & Guardian en Vrye Weekblad. Sy Rapport-rubrieke is in twee bundels byeengebring. ʼn Aantal gedigte en kortverhale het al verskyn. Hy het ook vir e.tv gewerk en vryskut insetsels vir etlike radiostasies soos FMR en Cape Talk gelewer.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R280,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adrie ·

Herman, ek kan nie wag om jou boek te lees nie! Jy is volksbesit. Mag jy seen ervaring en genesing met jou boek. Trots op jou.

Scholtz ·

Die grillerige detail in die boek sal nie tot stigting van my denke en gemoedstoestand wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.