Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ʼn eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ʼn skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eens ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ʼn uitweg – ʼn jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
Oor die skrywer
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees – liefdesromans. Sy glo onwrikbaar in die liefde en in die helende krag daarvan, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak. Daarom plaas sy haar heldinne binne realistiese, lewensgetroue situasies en laat sy hulle spook met geloofwaardige krisisse waardeur vroue dwarsoor die wêreld en die sosiale spektrum moet worstel: verraad, verlies, egskeidings, affairs, miskrame, middelmisbruik, moeilike tieners, bagasie van vorige verhoudings… Maar vir elke heldin wat bereid is om hierdie krisisse aan te pak en te oorkom, is daar ʼn held, ʼn man wat by haar pas en haar waardig is; iemand saam met wie sy binne ʼn vervullende verhouding geborgenheid vind. En saam met haar op haar reis is daar haar susters – bloedsusters en hartsusters – wat haar optel as sy val, wat haar dra as sy moeg word en wat saam met haar dans wanneer sy feesvier.
Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans bekroon, Huis van die wind in 2012 en Driehoek in 2014. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ʼn MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ʼn akademiese loopbaan gevolg, maar sy was intussen al alles, van ʼn barrista tot ʼn boekhouer in ʼn bank. Tans is sy, benewens ʼn skrywer, ook taalpraktisyn, vertaler, dosent, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die taaladviseur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans.
Genre: Fiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R350,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by Lapa Uitgewers