Boek: Kantelpunt

Sophia Kapp

Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding.

Nellie is pas 50, ʼn konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing.

Dan ondergaan sy ʼn histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ʼn vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ʼn ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as gegewe aanvaar het, te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal.

Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef.

Oor die outeur

Kantelpunt is Sophia Kapp se eerste roman wat ʼn vrou se verhouding met haar omgewing ondersoek, eerder as net haar verhouding met haar geliefde(s). In hierdie storie skryf Kapp die konvensies oop waaronder ʼn middeljarige, wit, Afrikaanse vrou gebuk gaan, en die prys wat sy betaal as sy daardie konvensies uitdaag.

Kapp het op 40 begin skryf – toe sy die lewe se oppe en affe beter leer verstaan het. Sy het haar tot dusver toegespits op liefdesromans omdat dit die genre is wat sy self graag lees, maar sy het nog altyd probeer om die verhoudings waarin haar karakters hulle bevind lewensgetrou te hou. Die liefde is nie net lekker of maklik nie, en haar heldinne was nog altyd vroue wat verstaan het dat die lewe soms meer uit ʼn vrou tap as wat sy het om te gee.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R315,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.