Boek: Kate in harmonie

Kate in harmonieJacolet van den Berg

Kate se hele lewe is op sy kop gekeer.

Nadat haar pa sy werk verloor, trek hulle gesin sak en pak na ʼn plaas naby die Paarl. Dit beteken Kate moet haar hele lewe in Johannesburg en die Fab-susters, haar beste vriendinne, agterlaat om graad elf in ʼn nuwe skool te begin, terwyl sy probeer aanpas by die rustige plaaslewe. Haar broer moet in sy matriekjaar sy plek in die eerste rugbyspan en sy leerlingraadsbalkie prysgee.

Sommer die eerste dag op Uitkyk trek een van die perde Kate se aandag. ʼn Wit-en-bruin hings met vurige donker oë. Die perd se naam is Harmonie, maar dit pas glad nie by hom nie – hy is in harmonie met net mooi niks. Wanneer iemand dit naby hom waag, raak hy wild en hy laat nie ʼn saal op sy rug toe nie.

Will, die plaaseienaars se seun, bied aan om vir Kate perdrylesse te gee, maar hy maak geen geheim daarvan dat hy reken dié stadsmeisie, wat vir perdemis gril, nie die mas gaan opkom nie.

Hy hou egter nie rekening met Kate se vasberadenheid nie.

Iets aan Harmonie trek haar aan en lok haar elke keer terug na sy kamp waar sy ure lank sit en die perd se grasieuse lyne in haar sketsboek teken. Hoe meer sy oor Harmonie se verlede uitvind, hoe sterker word die band tussen hulle.

Toe Harmonie se toekoms in die weegskaal beland, moet Kate die dapperste ding van haar lewe doen…

Kate in harmonie was op die kortlys van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie in 2017. Dit is ʼn aangrypende lekkerlees-jeugverhaal oor tweede kanse en die kragtige band tussen ʼn spesiale ruiter en ʼn spesiale perd.

Oor die outeur

Jacolet van den Berg het in Bloemfontein grootgeword. Sy het BSc Dieetkunde aan die Universiteit van die Vrystaat studeer waarna sy vir twee jaar in Engeland gebly het. Ná ʼn draai in Johannesburg het sy en haar gesin in die Paarl nesgeskop waar sy, haar man en drie seuntjies saam met hul uitgebreide dierefamilie op ʼn pragtige Bolandse plaas woon. Met drie besige seuns gebeur alles in haar lewe deeltyds – selfs om te slaap! Tyd vir skryf word telkens beperk tot die middernagtelike ure. Nietemin is skryf een van haar passies en stories lê haar na aan die hart. Sy het reeds naam gemaak met haar boeke vir volwassenes.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R170,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.