Boek: Katerina se mojo

Katerina se mojo (Hoëres)Kristel Loots

Nee, die lyflike, die liefde en die huwelik is skynbaar nie vir ewig sinoniem met mekaar nie. Die jare, jou man se werk en jou kinders kom foeter tussen hierdie drie pilare rond en veroorsaak gevaarlike krake.

Katerina is in haar naugty forties en dis waar sy graag wil bly, want vir ’n vrou is haar vyftigste verjaarsdag ’n dag van verskrikking. Katerina is amper daar en dit voel of sy haar mojo langs die pad verloor het; sommer ook die vlam wat daar eers tussen haar en Simon was.

Haar man is moeg, sielsmoeg; te moeg om aan haar lyf aandag te gee. Simon werk so hard. Hy is siek daarvan om stukkende mense te probeer gesond dokter en wil landuit. Hy wil Kanada toe!

Katerina probeer keer, maar dinge raak net te veel vir Simon en haar hele wêreld slaan bollemakiesie. Sy weet nie of sy kans sien vir Kanada nie en sy weet ook nie of sy kans sien om sonder Simon aan te gaan nie. Bowendien, Jennifer gaan ook Kanada toe. Jennifer is Simon se pragtige kollega. Jennifer is die naam wat Simon in sy slaap prewel.

Die tweeling is in hul storm- en drangdae en maak haar mal.

Sy erken dit nie graag nie, maar… wel, Katerina is in haar frieken oorgangsjare. Om alles te kroon, kom foeter ’n joernalis ook nog en dreig om haar donker verlede te ontbloot.

As sy net kan ophou hotflush op die onmoontlikste tye, sal haar lewe soveel makliker wees.

Dinge lyk hopeloos tussen haar en Simon, maar nóg haar hart, nóg haar lyf wil van hom vergeet. Dalk het dit tyd geraak dat sy weer begin uitgaan en dan meer doen as om net ’n man te soen.

Die lewe is nou een maal nie genadig nie en Katerina leer dat die doodsengel nie witbroodjies het nie.

Tog, alles is nie hopeloos nie. Uiteindelik, in haar donkerste uur, besef Katerina haar mojo is nog lank nie verlore is nie; daar skuil nog baie passie en liefde in ’n vrou van vyftig.

Oor die outeur:

Daar het al 47 boeke uit Kristel Loots se pen verskyn.

Katerina se mojo is haar sesde liefdesroman. Met Aspoesterskoene het sy die leefwêreld betree van gewone vroue van verskillende agtergronde, ouderdomme en figure wat die wonder van die liefde opnuut ontdek en hoe dit die mense naaste aan hulle raak.

Sjokoladesoene en Lemoenseisoen, wat sy met die tong stewig in die kies skryf, volg die suksesvolle tweeluik, Eendagmooi en Die ander vrou. Daarin word die verhaal vertel van twee vroue – en hul gesinne – aan weerskante van die spektrum wanneer ’n huwelik op die rotse beland. ’n ATKV-woordveertjie in die liefdesroman-afdeling word aan Eendagmooi toegeken in 2013 en Die ander vrou is ’n finalis in dieselfde kategorie in 2014. Haar lesers verlekker hulle aan Loots se humoristiese skryfstyl wat aan die tragikomedie raak. Die lag-met-’n-traan-aanslag word voortgesit in Katerina se mojo.

Kristel woon in Kaapstad en skryf ook verhale en artikels, meestal tong in die kies, vir verskeie vrouetydskrifte.

UITGEWER: LAPA Uitgewers
PRYS: R214.95*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.