Boek: Kerneels en die Krismisengel

Wendy Maartens

Kerneels is ʼn agtjarige seuntjie met kortgeskeerde hare en ʼn stukkende groottoon. Sy ma is ʼn skoonmaakster by ʼn winkelsentrum, en wanneer sy nagskof werk, moet Kerneels saamgaan. Hy trek dan sy pajamas onder sy klere aan, en sy ma maak vir hom ʼn bed in die stoorkamer waar die skoonmaakgoed gebêre word.

Dit is vir Kerneels baie lekkerder by die winkelsentrum as by die huis. Hy kuier saam met oom Sol, die veiligheidswag, wat elke aand sy toebroodjies en frikkadelle met Kerneels deel, en hom leer van die Aandster en die Melkweg, Orion en die Skerpioen. Maar Kerneels wil weet of mens engele sal sien as jy in ʼn regte vuurpyl na die sterre toe gaan, en op Oukersaand wil hy hê oom Sol moet die Betlehemster uitwys.

“Ek dink hy het verskiet en in miljoene stukkies opgebreek,” sê oom Sol. “Elke stukkie het iewers in iemand se hart vasgesteek en help ons om mekaar lief te hê.”

Vroeg op Kersoggend, net ná Kerneels in die stoorkamer wakker geword het en sy ma se nagskof tot ʼn einde kom, kondig oom Sol aan dat hy vir hom ʼn boodskap van ʼn engel het. Hy gee vir Kerneels ʼn wit veertjie, en knipoog, voor hy op sy fiets spring en in die donker oggend huis toe ry. Sy fiets se speke sing soos hy ʼn pad tussen die sterre ooptrap. Kerneels wag tot oom Sol omkyk en knipoog terug. Toe bêre hy die wit veertjie in sy hempsak en gaan tevrede huis toe. Hy het uiteindelik ʼn engel gesien.

“Nie een met ʼn goue rok en ʼn stralekrans nie. ʼn Regte Krismisengel met ʼn fiets en ʼn kosblik en ʼn radio… en ʼn gaatjie in sy een skoen.”

Oor die outeur

Wendy Maartens woon in Table View – ʼn klipgooi van die “groot blou dam”, Rietvlei se strandmeer en die Weskus waar alles om die draai van die gety, vroegoggend se vangs en die stories van vroeër dwaal. Sy is ʼn kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en dromer.

In 2005 het Lena se bottelboom Exclusive Books se “Publisher’s Choice”-lys gehaal en in 2006 het Maartens ʼn eervolle vermelding by die Noma-toekennings ontvang. Sy was ook twee keer ʼn finalis by die ATKV se Veertjie-toekennings: In 2006 vir Lena se Bottelboom en in 2007 vir ʼn rubriek.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R150,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.