Boek: Kitaar my kruis

Kitaar my kruis Adam Small

Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef. In sy huldeblyk getiteld “Die Groot Small”, gelewer te Stellenbosch op 7 Maart 2006 (op LitNet beskikbaar), maak Steward van Wyk die volgende opmerkings oor Small se werk:

’n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ’n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, oa die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Só lui die openingsgedig byvoorbeeld:

KÔ, LAT ONS SING

Vrinne

lat ons die Bybel oepeslaan

en lat ons daaryt lies –

o Allahoegste Gies

lat hierie woorde na onse harte gaan! –

yt die twiere boek van Mosas

yt die Exoras

yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –

o God

maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

 

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat

as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat

as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

 

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei

wat’s in djou hand?

en Mosas sê: ’n staf

 

nou vrinne

dit was al wat hy gahad het

hierie man van God

’n staf

’n dooie stok

en boenop het hy nog gahakkel ok

 

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat

oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat

het die Egiptanaar

en Mosas het sy groote kop lat hang

en toe

toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

 

nou vrinne

die Here het gabring

aan my sy wonnerwerke oek so

hy het gavra wat’s in my hand

en vrinne

in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Oor die outeur

Adam Small is een van enkele bruin Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is. Hy was, met die gebruik van Kaaps, ’n voorloper van ’n hele generasie bruin Afrikaanse digters, wat ’n opbloei in protespoësie in die jare tagtig teweeggebring het.

In 2012 het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre, met spesifieke verwysing na Kanna hy kô hystoe wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns beskou word. In 2009 is hy ook met die SA Akademie se Eeufeesmedalje bekroon vir sy hele oeuvre.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R170,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

tragies dat kleurlinge steeds die slagoffers van diskriminasie in SA is. ek weet van talle gevalle waar vir kleurlinge wat vir werk aansoek doen, bloot gesê word “sorry no job for you because you are not black enough”.
ek kan verstaan dat wit mense vir apartheid “teruggekry” word, maar kleurlinge en indiers was in die apartheidsjare SAAM MET die swartmense die slagoffers van apartheid. waarom hulle dan nou ook sleg behandel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.