Boek: Kodenaam Icarus

Kodenaam-Icarus.jpgHenk Breytenbach

Vic Nel wou net ’n normale lewe lei, maar die laaste dae van die apartheidsregering het hom opgesaal met ’n klomp onsmaaklikhede wat sy gesin verwoes het, dinge waarvoor hy nooit om amnestie gaan pleit het voor die Waarheids- en Versoeningskommissie nie. Twintig jaar later verkeer hy in ’n staat van anonimiteit. Hy werk tans as gehuurde spiere vir enigiemand wat kontant betaal en nie vrae vra nie.

Dan verskyn Vic op die radar van sy vorige betaalmeester, die laaste apartheidsdirekteur van Nasionale Intelligensie. Vic moet hóm help om iemand op te spoor wat oor inligting beskik rakende die verdwyning van die Helderberg, daardie SAL Boeing 747 wat net verdwyn het.

Ongelukkig vir die huidige regering is hierdie inligting verdoemend vir ’n klompie mense in die ANC; ongelukkig vir Vic Nel ook, want nou wil meer as een persoon hom dood hê.

Wat het geword van daardie ou spioene, die manne wat ryk geword het uit die vorige bedeling se intelligensiedienste? Hierdie boek gaan krap so ’n bietjie rond en kom met ongemaklike antwoorde vorendag.

Oor die outeur:

Henk Breytenbach is ’n debuutskrywer en word deur Chanette Paul aangeprys: “Dié skrywer het ’n heerlike skryfstyl en die droë humor is baie vermaaklik. Dis ook nie sommer enige skrywer wat dit regkry om ’n mens te laat hou van ’n man wat werklik nie die good guy is nie. Henk slaag egter uitstekend daarin om die sogenaamde flawed hero uit te beeld.”

Sy droë sin vir humor sorg vir genotvolle oomblikke in ’n Bonnie and Clyde-tipe storie.

Henk het ’n B.Sc. in rekenaarwetenskap. Hy en werk en woon in Hartbeespoortdam. Hy word veral geboei deur die wel en wee van voormalige agente van die formele intelligensie-agentskappe, die ou apartheidspioene, en wonder dikwels wat van hulle geword het. Dit is rype grond vir spekulatiewe fiksie en die resultaat is sy eerste spanningsroman.

UITGEWER: LAPA Uitgewers
PRYS: R214.95*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.