Boek: Kolokwinte en Kapitele – dit hoef nie Grieks te wees

Wanneer iemand vandag die 1933/53-vertaling van die Bybel begin lees, word hy blootgestel aan woorde, terme en gesegdes wat hoegenaamd nie meer bekend is of in alledaagse gesprekke voorkom nie. Dit is amper soos om ʼn vreemde taal te lees, behalwe dat die uitspraak van die woorde bekend is.

In Kolokwinte en Kapitele gee Barry Torlage verduidelikings oor sekere woorde en gesegdes wat in die 1933/53-vertaling verskyn. Sy uitgangspunt met die skryf van hierdie handige boek is dat indien mense meer kennis oor die 1933/53-vertaling se terme en gesegdes het, die Woord meer toeganklik en waardevol vir die leser sal word.

Die boek gee die betekenis (met teksverwysings) van ongeveer 130 terme en gesegdes wat in die 1933/53-vertaling voorkom, onder meer die woorde “bare”, “arglistig” en “muilesel”. Torlage ondersoek ook die interessante woorde uit die titel “kolokwinte” en “kapitele”, soos wat dit in 1 Konings gebruik word: “… en sederhout was aan die huis binnekant: snywerk van kolokwinte en oop blomknoppe, dit alles van sederhout; geen klip was daar te sien nie (1 Konings 6: 18)” en “… en hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit, gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was die hoogte van die ander kapiteel (1 Konings 7:16).”

“Kolokwinte” en “kapitele” is vreemde woorde vir die meeste van ons, maar as ʼn mens eers verstaan dat ʼn “kolokwint” ʼn komkommeragtige plant is en ʼn “kapiteel” die versierde bo-stuk van ʼn pilaar  ̶  dan kry jy ʼn duideliker prentjie van die werklike prag van Salomo se paleis.

“Die rede vir die skryf van Kolokwinte en Kapitele is nie omdat ek van mening is dat die betrokke vertaling die beste of enigste aanvaarbare een is nie, maar omdat ek weet dat baie mense, oud en jonk, een of ander tyd dié besondere vertaling van die Bybel te lees en dan daarmee sukkel,” sê Torlage.

Die debat oor watter vertaling van die Bybel die beste is, woed al dekades lank in Suid-Afrika. Toe die ou Statevertaling in die dertiger jare van die twintigste eeu vervang is deur die Afrikaanse weergawe van die Bybel, was daar groot teenkanting teen dié “plat” vertaling wat in sogenaamde “kombuistaal” geskryf is. Vyftig jaar later, met die verskyning van die 1983-vertaling, was die 1933/53-vertaling nie meer “plat” nie; die taal was nie meer “kombuistaal” nie, maar word toe deur baie geag as swierige of selfs verhewe taal wat pas by ʼn geskrif wat inderdaad verhewe is.

Torlage gee ook ander waardevolle inligting in die boek soos wie die aartsvaders, stamvaders en die apostels was, hoe om opskrifte en byskrifte te interpreteer, hoe om die Here se Naam te verstaan, hoe die konings van Israel mekaar opgevolg het en hoe die optrede van profete met die konings se regeertydperke verband gehou het.

Kolokwinte en Kapitele kos R55 en is beskikbaar per bestelling. Om die boek te koop stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 012 362 1390 om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.