Boek: Krake

krake

Peet van Staden

As hy die finansiële state het, kan hy begin. Daarvoor het hy kontakte by al die belangrikste banke, sorgvuldig oor jare bymekaargemaak. Op sommige van hulle het hy ’n houvas omdat hy inligting oor hulle uitgesnuffel het.

Wanneer hy die dokumente voor hom het, begin die werklike kragmeting: sy stadige, planmatige, geduldige kyk met forensiese X-straalvisie na wat skelm rekenmeesters en regsadviseurs hulle base help verdoesel. Hy kyk nie net na wat daar is nie, maar ook na wat nie daar is nie. Hy voel die afwagting in sy maag.

Dis soos wanneer ’n jagter die slot oopmaak en die patrone in die magasyn druk. Vir hom is só ’n finansiële dokument die reuk van forensiese geweerolie. Daar is geen waarborg dat hy sal tref of selfs ’n skoot sal inkry nie, maar dis die begin van die jag.

Roux Venske, hy is dié jagter. Finansiële knoeiers is sy prooi.

Dit is maar ‘n raap-en-skraap-bestaan as vryskut, maar hy oorleef. Verdien goed genoeg om tyd te hê om ‘n bietjie ‘n bestekopname van sy lewe te doen, selfterapie toe te pas, agter te kom wie en wat hy is en waarheen hy op pad is. Nee, eintlik om agter te kom waar dinge vir hom verkeerd geloop het. Waar die eerste krake begin wys het.

Dié dat Nono Baloyi se oproep hom nie juis opgewonde gemaak het nie. Sy is hoog op in die een of ander staatsdepartement. Sê sy het iemand soos hy nodig. Hoogs vertroulik. Sy soort ding, ja, maar…

Maar toe kry hy, terwyl hy met haar goed besig is, dié state.

Dit het niks met haar te make nie. Wel met een van die rykste mense in die land, ‘n mynmagnaat met die naam Vincent Mabena. Iemand is besig om miljoene van hom te steel.

Maar wat het dit met hy wat Roux Venske is te make? Waarom probeer hy so hard om Mabena te waarsku dat hy sy lewe op die spel plaas? En nie net syne nie, maar ook dié van sy eksvrou wat hom help met ‘n paar spioenasietakies.

Oor die outeur:
Peet van Staden het so te sê bygestaan toe die ou Suid-Afrika sy asem uitgeblaas en die nuwe sy asem onder ’n gedawer ingetrek het. Dit het hom presies die agtergrond verskaf vir die skryf van ’n verhaal soos Krake. Hy was 40 jaar joernalis, die laaste 27 jaar daarvan ’n senior lid van die SAUK se TV-nuusredaksie. Aanvanklik was hy nuusskrywer, van 1985 af meer as 13 jaar lank bulletinredakteur, en in sy laaste 12 jaar voor aftrede as uitvoerende regisseur oorhoofs in beheer van Afrikaanse TV-nuus. As skoolseun en student was hy al joernalis. Daarna was hy aanvanklik koerantman, en het as sportskrywer by Die Vaderland en Rapport gewerk. Hy was sportredakteur van die destydse Die Transvaler.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R210-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.