Boek: Krokodil aan my skouer

krokodil aan my skouerChristiaan Bakkes

‘n Video-gesprek tussen Erns Grundling van die tydskrif WEG en Christiaan Bakkes tydens die Woordfees 2014 volg onderaan die berig. Krokodil aan my skouer is Christiaan Bakkes se boeiende vertelling oor sy vroeë vormingsjare. In ses bundels sedert 1998 het lesers hom leer ken deur sy Stoffel Mathysen-persona. Vandag is hy bekend as ’n gesogte safarigids en gerespekteerde natuurbewaarder, maar mense onthou hom steeds as die man wie se arm in die Krugerwildtuin deur ’n krokodil afgebyt is – ’n gebeurtenis wat sy lewe verander het. Vir die eerste maal vertel Stoffel ook die volle verhaal van sy jaar grensdiens in die Wes-Caprivi en ontbloot só ’n stuk geheime geskiedenis uit die bosoorlog. En hy kondig sy nuwe oorlog aan: die stryd teen renosterstropery.

Bakkes se skryfstyl vol ironie en lakonieke humor bly ’n plesier, maar dis veral sy eerlike en openhartige blik op homself en die lewe wat van hom so ’n gewilde skrywer maak.

Oor die skrywer:
Christiaan Mathys Bakkes is op 3 Augustus 1965 in Vredenburg aan die Weskus gebore. Christiaan was ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin toe hy in Februarie 1994 sy linkerarm verloor het nadat twee krokodille hom aangeval het terwyl hy in ’n dam geswem het. Nadat hy herstel het, het hy vir vyf maande deur Afrika gereis, vir drie jaar vir die WWF in die Kaokoveld in Namibië gewerk, en daarna by ’n safari-maatskapphy wat ekotoere op die Skedelkus aanbied. Tans is hy gids en areabestuurder by Wilderness Safaris in Namibië. Hy woon in Damaraland in die noordweste van Namibië. In 1998 het sy debuut, Die lang pad van Stoffel Mathysen, verskyn en daar het sedertdien reeds vier boeke oor sy alter ego, Stoffel, se avonture verskyn. Die meeste verhale is op werklike gebeure gebaseer.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R190-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.