Boek: Kruispad

kruispad deon opperman

Deon Opperman

Kruispad is die kern van Deon Opperman se groot TV-trilogie oor die Afrikaner se pad in Suid-Afrika. Dit beeld presies uit waar die groot verandering gekom en hoe die Afrikaner daarop gereageer het.

Die roman wentel om Sophia en Mariana, die twee dogters van ’n welgestelde boer, Soois van Rooyen, en sy vrou, Mart. Sophia is met die skatryk FG van den Berg getroud en Mariana met die arm, bekrompe Andries Landman. Terwyl FG en Andries albei hul ekonomiese status ná die verkiesing van 27 April 1994 verloor, sit hul onderskeie seuns, Klein FG en Henk, met die nalatenskap van apartheid.

FG rinkink en ploeter voort asof sy pa se besigheid nie besig is om ten gronde te gaan nie en Henk, wat op skool gepresteer het, vind weer dat die deur vir hom toegaan omdat hy wit is. Hy verloor ʼn beurs en moet op sy eie bene leer staan.

Tussen die ontwikkeling van dié groot menslike drama deur probeer die susters, Sophia en Mariana, agter die skerms red wat te redde is – grootliks in eie belang. Maar hulle is van uiteenlopende stoffasie en uiteindelik sal net een van die twee kop omhoog voortgaan.

Kruispad bevat al die verhaalelemente wat gesorg het dat Hartland en Donkerland soveel byval by lesers gevind het – en nog meer: Dit belig nie net die snykant van apartheid fel nie, maar boor ook diep in die problematiek waarmee die Afrikaner in die jare negentig moes worstel en toon hoeveel inbors en karakter dit verg om die juk van die verlede af te skud.

Oor die outeur:
Deon Opperman het oor die 50 verhoogdramas op sy kerfstok en is twee keer met die Hertzogprys vir Drama bekroon. Onlangse televisiedramas sluit in Kruispad, Getroud met rugby en Hartland. Hartland is die eerste van sy dramas wat tot roman verwerk is. Hy sê dit was ʼn besonderse ervaring vir hom om te sien hoe Kerneels Breytenbach toneel vir toneel en episode vir episode sy draaiboek tot prosa omskep: “Drama en prosa is uiteenlopende vaardighede, en dit is vir my ʼn voorreg dat Hartland, wat my so na aan die hart lê, ʼn nuwe lewe as roman deur Kerneels gekry het.” Die tweede romanverwerking, Donkerland, was op die kortlys vir die WA Hofmeyr-prys en die Nederlandse uitgawe verskyn in 2015 by Uitgeverij Mozaiek.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.